Flyers se pyle wen groot
2006-10-19
DIE plaaslike veerpylklub, Independent Flyers, het Saterdag geskiedenis gemaak toe hy die eerste klub van Drakenstein Veerpylvereniging geword het om as Boland kampioen gekroon te word.
Flyers het in die eindstryd die kampioen van die afgelope twee jaar, Flaming Bulls, 6-5 geklop.
Agt spanne het aan die prestige-kompetisie deelgeneem. Bulls het in die eerste wedstryd vir Flyers 6-5 geklop.
In ’n titaniese tweestryd het Danny Daniels (Bulls) en Wynand Havenga (Flyers) mekaar behoorlik vasgevat.
Toe Daniels faal om op 111 toe te maak, het Havenga sy kans gevat en die wedstryd met die gooi van slegs 13 veerpyltjies gewen.
In die ander rondomtalie-wedstryde het Spioenkop vir Somchem 7-4 geklop.
In die halfeindstryd het Stirfry van Gansbaai teen Flyers vasgeval. In die plaateindstryd was dit Somchem wat die Boland Uitnodigingspan 6-4 laat les opsê het.
’n Totaal van 30 voltalle (180’s) is gegooi, vyf van hulle in die finaal tussen Bulls en Flyers. Nico Barties van Independent Flyers het drie voltalle behaal.
Die Smartfit Kappa Vriendskapstoernooi vind Saterdag en Sondag by die Ambagsvallei Sportkompleks plaas.
Spelers sal in span-, dubbels- en enkelsverband kan deelneem. Die wedstryde begin om 09:00.
Die inskrywingsgeld is R300 vir ’n span van sewe met ’n spanbestuurder. Navrae: Lorenzo Arendse (083-254-6115) of Vincent Julius (072-333-8198).
More
News
|