Eerste verloor vir Peoples
2006-10-19
’n ONOORTUIGENDE vertoning met die kolf het Saterdag daartoe gelei dat Young Peoples Krieketklub sy eerste nederlaag van die seisoen gely het.
Op Daljosafat Stadion was dit die boulaanval van die Maties wat gans te sterk was vir die tuisspan.
Peoples was vroeg op 11/3 nadat Pepler Sandri (3/49 in 13bb) toegeslaan het.
Peoples het egter veggees getoon, met hardnekkig kolfwerk deur Edwin Jacobs (49 4x6), Mark Borchards (45 4x6, 6x1) en Dominic Daniels (22 4x3).
Die intrede van die draaiboulers Warren Swan (2/5 in 7bb) en Lloyd Hobson (3/28 in 11bb) het egter die laaste wind uit die Tiere se seile geneem en hulle op 147 gelos.
Hoewel die jong Peoples-span met goeie boul- en veldwerk dit nie vir die kolwers maklik gemaak het nie, was die telling eenvoudig te laag om te verdedig.
Die studente slaan die wenlopies in die 46ste beurt vir die verlies van vyf paaltjies.
Die Maties-kaptein, Swan (64 4x8), het ook met die kolf uitgeblink, terwyl Peoples se Gercian Gabriels (2/28 in 9bb) goed geboul het.
Volgens Peoples se afrigter, Eltin Buziek, het swak houe-seleksie sy span se ondergang beteken, maar het die spelers goeie ondervinding opgedoen.
Op Coetzenburg het dié twee klubs se tweede spanne in ’n rillerstryd teen mekaar te staan gekom.
Peoples II (199) het egter met vier lopies teen Maties II (203) vasgeval.
Peoples se uitblinkers was Charlton Daniels (3/61 in 15bb), David Gabriels (2/41 in 13bb), Dirkie Marais (2/2 in 2bb), Lindsay Davey (26 4x5), Wade October (28 4x5) en Wendyl Wilson (65 4x9, 6x1).
Peoples III (225/7) het sy wedstryd teen Oostelikes III (224) op Daljosafat met drie paaltjies gewen.
Frans-Loots van der Merwe (2/19 in 6bb), Cedrick Williams (4/23 in 7bb), Brett Mitchell (2/37 in 10bb en 73 4x10), Joshua Cupido (67 4x8, 6x2) en Herschelle Barron (34 4x5) was Peoples se uitblinkers.
Saterdag speel Peoples I en II albei tuis teen Bergrivier, terwyl die derde span op die Parysveld in ’n derby-kragmeting teen Paarl III te staan kom.
* Young Peoples Krieketklub hou Saterdagaand om 20:00 ’n disko by Jeff’s Pub. Toegang is R10. Navrae: Jeff Adams (082-566-3055) of Jeff Borchards (084-616-0951).
More
News
|