West Side Story op Wellington
2005-04-28
“DIT is verstommend hoe die storie van toepassing is op ons lewens vandag.” Dit is die uitspraak van die studente van die Wellington kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie wat op die oomblik besig is met repetisies vir ‘West Side Story’.
Toe Jerome Robbins, Leonard Bernstein en Arthur Laurents aanvanklik op die idee gekom het om ’n musikale verwerking te skryf van William Shakespeare se Romeo and Juliet, wou hulle dit East Side Story noem en dit sentreer op ’n onmoontlike romanse tussen ’n Joodse jongman en ’n Italiaanse, Katolieke meisie.
Die projek is egter op die lange baan geplaas en ses jaar later het hulle besluit dit is nie meer sosiaal relevant nie.
Hulle besluit toe op die storie van ’n Poolsgebore ou en ’n Puertorikaanse meisie wat pas in Amerika aangekom het.
Dit word geplaas teen die agtergrond van vegtende straatbendes.
West Side Story het op 26 September 1957 in die Winter Garden teater op Broadway geopen en ’n speelvak van 732 opvoerings gehad.
In 1961 is dit verfilm met Richard Beymer, Natalie Wood, George Chakiris en Rita Moreno.
Dr Hendrina Steyn, die regisseur van die studente-produksie, sê West Side Story het die toets van die tyd weerstaan.
Dit raak kwessies aan wat almal raak. Dit spreek tot almal: miskien ’n karakter, ’n woord, ’n emosie of ’n melodie.
Die spelers is almal onderwysstudente en -dosente. Die ouer rolle word deur dosente vertolk.
“Die stuk bied waardevolle ondervinding vir studente wat eerstehands kan sien hoe musiek, dans, drama en die visuele saamgevoeg word in ’n produksie.”
Dan, met ’n vonkel in die oog: “Daar is ook geen gekruide taal in die stuk nie!”
Die musikale regie word deur dr André Serfontein gedoen. West Side Story is van 18 tot 21 Mei in die CP van der Merwe-saal te sien.
’n Stukkie geskiedenis word ook gemaak, met die samewerking tussen die Onderwysdepartement en Sake & Informatika.
Studente van laasgenoemde behartig die bemarking vir die produksie, wat waardevolle indiensopleiding vir hulle is.
More
News
|