Nuwe wedlope goed begroet
2006-10-19
LEDE van die Boland Meesters Atletiekvereniging was aangenaam verras met die opkoms by die eerste Paarl Mall 10km en Halfmarathon wat dié naweek in die Paarl gehou is.
Die sowat 250 inskrywings vir die 10km was aansienlik meer as wat die organiseerders verwag het vir ’n nuwe wedloop, terwyl die 150 atlete wat vir die half-marathon opgedaag het, ook dui op die potensiaal van dié wedloop.
Die 10km wat Vrydagaand afgelê is, is deur die Wellington-atleet, Dicardo Jacobs, in ’n tyd van 30:55 gewen.
Tweede oor die wenstreep was Thembelani Zola (Mr Price) van Mbekweni, terwyl die SA-rekordhouer in die 1500m, Johan Landsman, derde was.
Zola moes Saterdag weer met ’n tweede plek tevrede wees, toe sy Mr Price-spanmaat, Neo Molema, die halfmarathon in ’n tyd van 65 minute gewen het.
Volgens die organiseerders sal die wedlope ’n jaarlikse instelling raak.
More
News
|