Rooi Rose blom weer in Athlone
2005-04-28
DIE Rose van Young Gardens het Saterdag in Athlone naelskraap daarin geslaag om ’n begeesterde Hamediehs 19-15 te klop.
Gardens moes tot aan die einde hard speel en met hand en tand verdedig vir dié sege.
Vir Gardens het Charl Hendricks, Ashley Jacobs en Jeremy Koukom drieë gedruk. Koukom was ook suksesvol met twee doelskoppe.
Die tweede span het ook sy wedstryd 18-12 gewen. Christopher Fortuin druk twee drieë, terwyl Randall George met ’n doelskop en twee strafdoele geslaag het.
Die klub se ou probleem van spelers wat oefeninge bywoon nie, maar Saterdag wil speel, is ook weer besig om kop uit te steek.
Volgens een van die klub se veterane, Chrisbin Meyer, het die keurders egter ’n standpunt ingeneem om nie dié spelers te kies nie.
“Die talent is daar, maar die spelers oefen nie almal saam as ’n span nie. As jy sukses wil behaal, moet jy bereid wees om op te offer deur te oefen,” het Meyer gesê.
Gardens speel Saterdag weg teen Langa. Die bus vertrek om 12:15 en kos R15 per persoon.
Die klub se o.12, o.14 en o.17 spelers oefen Dinsdae en Donderdae om 16:00 by Paarlzicht Primêr. Navrae: Maurice Fortuin 082-076-6015.
Vineyards steeds op die wenpad
Vineyards Rugbyklub het hul 31-5 sege oor Perseverance van verlede week, Saterdag opgevolg met ’n 25-19 (14-0) oorwinning oor Raithby Universals op Daljosafat Stadion.
’n Goeie vertoning deur die tuisspan se voorspelers het die basis gelê vir hul sukses.
Hier het veral die stutte, Heinrich Pretorius en Ali Smith, asook Makkie Heyns, Sahied Dalvie en Thamir Moerat uitgeblink.
Vineyards se drieë is deur Pretorius, Niejaaz Abrahams (vleuel) en Adli Moerat (losskakel) gedruk.
John Koopman het twee doelskoppe en twee strafskoppe oorgeskop.
Die vleuel, Abrahams, bly beïndruk en het Saterdag weer so gedoen met sy onderskepdrie.
Vineyards se tweede span kon Saterdag nie hul plek bo-aan die punteleer bekom nie, toe hulle 8-3 teen die ligavoorlopers verloor het. Hulle beklee tans die tweede plek.
Die derde span het ook 12-7 verloor.
Vineyards speel Saterdag tuis op Daljosafat Stadion teen Atlantis Rugbyklub.
More
News
|