Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Uitblinker kry groot beurs

Uitblinker kry groot beurs
 
2006-10-19

David Joshua

“In my wildste drome het ek nooit verwag dat dit met my sou gebeur nie, maar ek het die kans gewaag om aansoek te doen,” vertel ’n opgewonde Maralise Davids (18), matriek-dogter by Klein Nederburg Sekondêr in die Paarl.

Sy’s die ene glimlagte, want sy is die enigste leerling in die Wynlandstreek wat ’n R100 000 studiebeurs van die internasionale Dell-rekenaarmaatskappy in samewerking met die SA Youth Development Business Chamber (SAYDBUC) losgeslaan het.

Daarmee sal sy BCom-graadstudies in rekenaarwese aan die Universiteit van Wes-Kaapland kan aanpak.

Maralise sê sy is baie opgewonde en sien uit na haar studentejare op universiteit.

“Ek weet daar lê harde werk vir my voor, maar ek is studiehonger, daarom het ek ’n ekstra sewende vak (Bybelkunde), by my matriekvakke geneem. Ek wil graag my BCom-studies suksesvol voltooi sodat ek weer kan terugkeer na die Paarlse gemeenskap,” sê sy.

“Ek wy my studies aan God en het dit ook vir my ouers, veral my ma, gedoen. Sy het al baie opgeoffer om my te laat leer. Ook aan pa Aubrey wat my altyd ondersteun en moed inpraat. Ek sê vir almal dankie!”

Maralise se voorligtingsopvoeder Hillary Jacobs sê dat sy ’n hardwerkende leerling is wat akademies goed presteer.

Sy het hierdie jaar die toekenning as beste presteerder in Wiskunde SG en Bybelkunde HG by die skool ontvang. Haar vakke sluit ook Natuur- en Skeikunde en Rekeningkunde in.

Faldee Ryklief, President van SAYDBUC, sê Maralise se aansoek het tussen 437 ander in die Wes-Kaap uitgestaan.

"Ek het dit amusant gevind dat sy in haar aansoek meld dat sy nie ’n boy-friend het nie, maar dat sy op so ’n jong ouderdom vurige belangstelling in die rekenaarwese toon. Sy het genoem dat sy dit nooit sou kon bekostig om verder in dié rigting te studeer nie.”

Voorverlede jaar is die beurs aan ’n leerling uit Gouda, en verlede jaar uit Wellington toegeken.

Die Menslike Hulpbronbestuurder by Dell in Johannesburg, Rubiena Duarte, het by die tjek-oorhandiging aan die leerlinge by die skool gesê dat daar ’n tekort aan geskoolde tegnici in die rekenaarbedryf bestaan. Haar maatskappy moedig studie in hierdie veld aan.

* A matriculant has won a R100 000 bursary.



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za