Peoples steeds op wenpad
2005-04-28
DIE Tiere van Young Peoples Rugbyklub is steeds op die wenpad nadat hulle Saterdag in hul wegwedstryd 23-17 (12-10) koning gekraai het oor Franschhoek.
Die toeskouers is met mooi rugby getrakteer in ’n wedstryd wat voortdurend baie gelykop verloop het.
Albei spanne het verkies om die bal wyd te speel en het self by tye vanuit hul eie gebied aangeval.
Peoples se verdediging was veel hegter as dié van die tuisspan en dit het aan die einde van die dag die verskil gemaak.
Franschhoek het ook meer strafskoppe afgestaan en so Peoples in staat gestel om hul neuse voor te kry.
Die Paarliete het egter 15 punte in die water gegooi danksy verbroude strafskoppe wat hul weerhou het om met ’n groter punteverskil te wen.
Die Peoples-pak het verras deur hul swaarder teenstanders in die skrums te laat les opsê.
Hier het Brian Williams (stut), Garth Lewis (haker) en die slot Glenvor Kimber die pas aangegee.
Hoewel twee van die Tiere se staatmakers, Bjorgen Julies en Francois Julies, albei binne die eerste kwartier die veld moes verlaat weens beserings en dit die span ontwrig het, het die Tiere heelwat karakter getoon.
Jody Davids (vleuel) en Bjorgen Julies (flank) het Peoples se drieë gedruk.
Thysie Lewis (heelagter) was suksesvol met ’n doelskop en twee strafskoppe en senter, Kurt Martin, het ’n skepskop oorgeklits.
More
News
|