Windmeul Kelder het baie om te vier
2006-10-19
DIE Windmeul Kelder het die afgelope Saterdag-aand hul lede en vriende in die wynbedryf swierig onthaal ter viering van hul 60ste bestaansjaar, en het in dieselfde asem hul nuwe wynsentrum ingewy.
Die verrigtinge is op ‘n hoë noot afgesluit met ‘n spesiale vertoning deur Coenie de Villiers.
Die kelder is vernoem na die enigste windmeul wat in hierdie area gebou was in die laat 1800’s om koring te maal. Dit was die ekonomiese sentrum van die area.
As gevolg van ernstige stormskade het die meul egter later in onbruik verval. Deur die jare heen is die parte en boumateriaal stelselmatig verwyder, en is daar van hierdie geskiedkundige baken niks meer oor nie.
Daarteenoor beleef Windmeul Kelder groei en vooruitgang. Windmeul Koöperatiewe Wynkelder Bpk is geregistreer op 4 September 1944, met die eerste drie-en-twintig stigterslede wat onderneem het om gesamentlik ‘n oes te lewer van 1700 ton.
Die volgende jaar is begin met die oprigting van ‘n kelder, en in 1946 is die eerste oes gepars.
Windmeul Kelder het in die laaste paar jare bekend geword as ‘n kelder wat gehalte wyne teen bekostigbare pryse lewer.
Die opgradering van die R44-pad, asook die uitstekende ligging langs dié pad met sy hoë volume verkeer, verseker ‘n uitmuntende vlak van sigbaarheid.
Daar is besluit om ‘n nuwe wynsentrum te bou om die toenemende getal besoekers wat daarheen gestroom het, te akkommodeer en die beeld van die kelder te verbeter.
Die sentrum, met ‘n groter proelokaal, is nou ook toeganklik vir rolstoele en spog met konferensiefasiliteite, sê voorsitter Wilhelm Dreyer.
More
News
|