Theron is Sakeman van die Jaar
2006-10-19
JONG sakemanne moet leer om groot te droom oor hulle ondernemings. So sê Boetie Theron, stigter en uitvoerende voorsitter van Boland Drukpers, wat onlangs deur die Wellingtonse Sakekamer aangewys is as Sakepersoon van 2006.
Theron, wat sy onderneming 40 jaar gelede op Wellington begin het, het gesê dat ‘n groot sakedroom alleenlik bewaarheid kan word, as dit iets is wat jou bloed laat bruis.
Vir hom is die reuk van drukkers-ink en die gedreun van drukmasjiene nog net so opwindend soos toe hy dit 53 jaar gelede vir die eerste keer ervaar het.
Boland Drukpers het volgens hom oor die afgelope veertig jaar gegroei van ‘n eenmansaak wat uit nood gebore was (hy moes vir homself werk skep), tot ‘n tamaai besigheid met meer as 100 werknemers in diens.
Die onderneming staan ook nou op die vooraand van sterk nuwe uitbreiding.
‘n Vennootskap-ooreenkoms is pas aangegaan met die eienaar van ‘n drukkery in Bloemfontein, dr Pax Ramela.
Volgens Theron het Boland Drukpers oor die afgelope veertig jaar stabiele groei getoon, terwyl die ekonomie talle ander ondernemings se groei gestrem of selfs van die toneel af laat verdwyn het.
‘n Belangrike deel van die sukses kan volgens hom toegeskryf word aan voortdurende vernuwing van toerusting, die opleiding van werknemers en die strewe om net die beste diens en produkte aan hul kliënte te lewer.
Theron sê: “Om tyd en geld in jou eie werknemers te belê, was al die jare ons maatskappybeleid, daarom het Boland Drukpers waar moontlik altyd intern mense opgelei.
“Deur hierdie tradisie tot stand te bring, het werknemers saam met my ons droom uitgeleef dat ons nie die grootste hoef te wees om die beste te wees nie.
“Deur eienaarskap by alle werknemers te kweek, bemagtig jy jou personeel en deel hulle in die groei van jou onderneming.”
* Boetie Theron is Wellington’s Businessman of the Year.
More
News
|