Flink Paarliete speel vlootse toerspan
2005-04-28
DIE gekombineerde plaaslike rugbytalent was een te veel vir ’n Engelse toerspan wat verlede week hier kom besoek aflê het.
Die Drakenstein Streekspan het die Royal Marines van Engeland op Daljosafat behoorlik deurmekaar gehardloop en 38-12 gewen.
Die wedstryd was deel van Young Peoples Rugbyklub se 110de bestaansjaarvieringe.
Hoewel die Engelse vlootspan heelwat swaargewigte in hul span gehad het, was die ontbreking van spoed die grootste leemte in hul mondering.
Die Paarl-span se voorhoede het egter nie ’n duit teruggestaan vir hul teenstanders nie en met goeie samespel kwaliteit balbesit vir sy agterlyn gewen.
Spoed, meer vernuftige voetwerk en hantering was presies wat die Paarliete die oorhand gegee het in dié wedstryd wat op ’n klam-veld onder die spreiligte gespeel is.
Die was veral die twee vleuels, Alvin Hugo en Roger Ruiters wat heelwat goeie lopies ingekry het.
Hugo het dan ook twee van die tuisspan se ses drieë gedruk en die res van sy span se punte met die skopvoet aangeteken, wat hom welverdiend die speler van die wedstryd gemaak het.
Die ander driedrukkers was Ju-Wayne Cyster, Charles Colley, Joss Sauls, en Abbas Hendricks.
Die Royal Marines kon met twee drieë en ’n doelskop antwoord.
More
News
|