Polisievrou in nagklere agter boewe aan
2006-10-26
Lise Beyers
DIS nie aldag dat jy ’n polisiebeampte boewe sien jaag in haar nagklere nie.
Dit is presies wat konstabel Melonie Julius van die Paarl-Oos polisiestasie Sondagaand gedoen het nadat sy ’n jong man oor haar tuinmuur in Charleston Hill sien spring het.
Konstabel Julius vertel dat sy reeds in haar nagklere was toe sy omstreeks 21:30 iets in haar agterplaas gehoor het.
Toe sy ’n man oor haar muur sien spring het sy in haar motor geklim en na die straat agter haar huis, McGregorsingel, gejaag.
Daar het sy die man saam met nog drie verdagte jong mans betrap met ’n swartsak vol kruideniersware.
Sy het vir eiehandig en sonder ’n wapen gekonfronteer en beveel om saam met haar te gaan.
“Ek het geen wapen of ’n selfoon by my gehad nie, en die mans het begin aggressief raak.
“Toe hulle nie na my bevele luister nie, het ek die sak gegryp en terug in my motor geklim en die deure gesluit.
“Hulle het aan die motor begin skop en slaan en ek het huis toe gery.”
Sy het die polisiestasie gekontak om versterkings in te roep en weer in haar motor geklim en in die rigting gery waarheen die mans gestap het.
“Ek het hulle agtervolg tot by Chicago, maar toe hulle die polisieversterkings sien aankom, het hulle tussen die geboue in verdwyn.”
Die polisie vermoed dat die kruideniersware vanuit ’n winkel gesteel is. Enigiemand met inligting kan die aanklagkantoor skakel by 877-5240.
* A local policewoman chased thieves in her nightclothes when she spotted suspicious characters in har backyard.
More
News
|