Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


(V)lieg soos ’n arend

(V)lieg soos ’n arend
 
2006-10-26

Malané Bosman

NOEM die naam Colin Meads Rall, woekeraar van Wellington, en jy hoor: “Die liegbek, ek sal teen hom getuig in die hof, sê net waar en wanneer.”

Party ken die eienaar van Eagle Wave Promotions, oftewel ProRugby, as Colin Meads, die ander ken hom as Colin Rall, maar almal is dit eens: “Dié man gee vir Wellington ’n slegte naam.”

Terwyl aanklagte van bedrog van sover as Mpumalanga en Riviersonderend vanjaar teen hom aanhangig gemaak is, is onlangs in die Wellingtonse landdroshof ’n skuldvonnis teen ProRugby gevel.
Hy het die afgelope jare gereeld met die gereg gebots, met skuldigbevindings vir diefstal en bedrog in die Strand en Bellville, uitstaande bedrogsake teen hom in Porterville, Kaapstad en Kuilsrivier, en ’n bedrogsaak in Mosselbaai wat teruggetrek is.

Rall en sy vrou Marinda het vier jaar gelede uit die Strand na Wellington verhuis. Hulle is nou kennis gegee om uit hul huurhuis te Rosestraat 11 te wees.

Die Ralls het die sportpromosiefirma Eagle Wave op Wellington begin. Dit was egter nie ’n arend wat daar kom land het nie, meen dorpenaars vandag, “dit was ’n aasvoël”.

Onbewus van wat sou volg, is ’n vennoot in die saak ingetrek. Sy is genoeg heuning om die mond gesmeer om R400 000 te belê.

Die afgelope weke het voormalige werknemers en beleggers by die Paarl Post begin aanklop om “die gladdebek wat almal belieg” aan die kaak te stel.

Voormalige werknemer Marietjie Geldenhuys het haar eis teen Rall by die CCMA gewen, maar Rall het daarteen geappelleer.

Sy kan nie werkloosheidsversekering eis nie, want Rall het nooit haar werkloosheidsbydraes oorbetaal nie.

Ná Oktober verlede jaar het Rall groot bedrae geld - bykans ’n miljoen rand - by mense geneem om in te koop in sy ProRugby.

ProRugby, geskoei op die naam van ’n Amerikaanse firma, is volgens die Kaapstadse regsfirma wat die handelsmerk sou registreer, “nie in Suid-Afrika geregistreer nie”.

Tweelingbroers Werner en Wynand Ferreira van Riviersonderend het in Januarie ’n franchise van ProRugby van Rall gekoop.

Die seuns het die R200 000 wat hulle met werk in London gespaar
het om ’n toekoms in Suid-Afrika te bou, verloor.

“Rall het nie sy ooreenkomste nagekom nie,” sê die inkopers in “ProRugby SA Sports cc”.

’n Boere-egpaar van Mpumalanga, André en Susan Botha, het ingekoop in die agentskap en sou T-hempe en ander promosie-artikels aan skole en sportklubs in Mpumalanga en Gauteng area kon verkoop.

Hulle probeer nou onderhandel om die R200 000 wat hulle voorgeskiet het, van Rall te verhaal.

In die Paarl is voormalige Gimnasium Hoërskool rugbyspeler Jean van der Walt (21) uit R180 000 bedrieg, sê sy moeder, Magda, van Foxglovestraat.

“Wie kan nou wen teen ’n gewetenlose mens wat na bewering die Chippendales na Suid-Afrika sou bring en met derduisende rande weggeloop het toe die konsert nooit gehou is nie,” vra Magda.

Rall het ná die bedanking van sy vorige twee werknemers, vanjaar weer twee konsultante in diens geneem.

Hulle is nou reeds drie maande sonder salaris en is erg in die knyp.

Hulle moes hul eie voertuie en brandstof gebruik vir die firma.

Rall beweer sy werknemers het “nie perform nie” en dat hulle “nie hul kontrakte nakom nie” of dat hy ondersoek instel na hul “onetiese gedrag”.

Dan dreig hy met lastereise teen diegene wat dit durf waag om aantygings teen hom as baas en besigheidsman te maak.

Die twee nuwe werknemers is aangestel om adver-tensies te verkoop en Eagle Wave se nuwe produk, ’n sporttydskrif gemik op skole, te bemark, sê Rall.

Hy beoog glo om ’n glanstydskrif, die SA Schools Sports Magazine, vandag die lig te laat sien.

Maar die koerantvrou wat die uitleg van die sogenaamde tydskrif vir hom gedoen het, sê: “Daar sal beslis niks van kom nie.

“Die uitleg is slegs gebruik om beleggers en advertensies te werf."

Rall was hierdie week nie bereikbaar nie, maar voorverlede week het hy gesê dat daar al sowat R60 000 aan advertensies in die glanstydskrif betaal, terwyl 80 persent van adverteerders wag dat die boek van die pers is voordat hulle opdok.

Rall se ProRugby webwerf is intussen opgeskort en die webwerf vir ’n SA Schools Sports Magazine bestaan nie meer nie.

Al die aanklagte van bedrog van oor die land word nou by Wellington polisiestasie geregistreer en sal as een dossier ondersoek word.

Die man met dieselfde naam as die eertydse vinnige Kiwi-flank Colin Meads, is dalk net so glibberig, maar nie met ’n bal op die rugbyveld nie, sê 'n belegger.

Mense wat meen dat hulle deur Rall ingeloop is, kan Wellington speurhoof, supt Leon Laubscher, by 873-2913 skakel.

* Police are investigating the business practices of Colin Meads Rall, owner of Eagle Wave Promotions and ProRugby in Wellington.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za