Polisieman sterf week ná slagoffer
2006-10-26
DIE plaaslike polisieman wat bykans twee weke gelede eers sy voormalige minnares doodgeskiet het en daarna die wapen op homself gerig het, het verlede week aan sy beserings beswyk.
Walter Isaacs, inspekteur by die polisie se Boland-areamisdaadvoorkomingseenheid, het ses maande gelede die reg om ’n dienspistool te dra, verloor.
Verlede Saterdag het hy wederregtelik ’n vuurwapen bekom by die Mbekweni polisiestasie en na sy voormalige vriendin in Worcester gery.
Hy het vir Maria Arendse ses keer geskiet en kort daarna vir homself in die kop geskiet.
Isaacs het vir vier dae in ’n kritieke toestand in die Paarl MediClinic verkeer, voordat hy verlede Woensdagaand oorlede is.
Arendse en Isaacs het vir drie jaar ’n verhouding gehad, maar volgens familielede het Arendse die verhouding beëindig toe sy uitgevind het dat hy getroud is.
Volgens haar familie het hy geweier dat die verhouding tot niet gaan en Arendse moes noodgedwonge ’n beskermingbevel teen Isaacs bekom weens sy aggressiewe optrede.
Weens dié bevel is daar beslag gelê op sy dienspistool, maar op die noodlottige oggend het hy na die Mbekweni polisistasie gegaan en ’n vuurwapen aangevra.
’n Diensoffisier wat nie bewus was van Isaacs se omstandighede nie, het die wapen uitgereik. Daar word departementeel ondersoek ingestel na dié gebeure.
’n Voormalige kollega van Isaacs het gesê dat hy altyd ’n oog vir ’n mooi vrou gehad het en dat hy hom vantevore gewaarsku het dat die noodlot hom gaan tref.
In 1999 het insp Isaacs internasionale nuus gemaak in ’n onderhoud met Britse televisie. Dit was in verband met ’n insident in die Paarl polisie klagtekantoor, waar sy kollega, wyle sers Ian Myburg, ’n hawelose man aan die brand gesteek het.
Sy broer, Isak de Wet, het gesê dat die voorval ’n groot skok vir die hele familie is en dit sal baie lank vat om dit te verwerk.
“Walter was ’n stil man wat baie geheg was aan sy familie. Ons kan nie verstaan wat tot die gebeure van daai dag gelei het nie.”
Isaacs laat sy vrou, Dalene, met wie hy agt jaar getroud was, en twee kinders, Cheslin (10) en Santé (6), agter.
Die begrafnis is Saterdagoggend om 09:00 vanuit sy woning te Gamaystraat 16, en daarna om 10:00 by St Joseph’s AME Kerk in Klein Drakensteinweg, Paarl-Oos.
’n Bus sal Saterdag om 07:00 vanaf die Groendal rugbyveld in Franschhoek, via Kylemore loop, om roubeklaers na die begrafnis te neem.
* The police inspector who shot his girlfriend before turning the weapon on himself, has died in hospital.
More
News
|