Drie vas ná roof
2006-10-26
Susan Botha
“EK het gesien iets is nie reg by die kantoor nie. Ek het nader gestaan om te kyk en die volgende oomblik druk ’n man ’n pistool teen my kop en druk my by die deur in.”
Só vertel Frikkie Wes van sy nagmerrie-ondervinding verlede Donderdagoggend.
Die voorval het omstreeks tienuur by Hercules Cement Products in Wattstraat in die Daljosafat-nywerheidsgebied gebeur.
Drie mans het die kantoor genader waar die sekretaresse, Willemien Roux, en Paula Rossouw, die eienaar se vrou, besig was.
Hulle het die twee aangehou en geld geëis. ’n Bedrag van sowat R1200 is oorhandig - die meeste daarvan die twee vroue se eie kontantgeld.
Hierna het Wes, ’n vragmotorbestuurder by die onderneming, op die toneel gekom.
“Ek wou nog stoei met hulle, maar Paula het gesê ek moet kalm bly en doen wat hulle sê.”
Die drie se hande is met tou agter hul rûe vasgebind en hulle is in die kantoor toegesluit terwyl die rowers die hasepad gekies het.
Wes het sy selfoon uit sy agtersak gewikkel en vir Paula gegee, wat haar man, Anton, gebel het.
Jeffrey Magaliso, ook ’n vragmotorbestuurder, het die deur oopgeskop.
Intussen het supt Daniël Uys, stasiekommissaris van Paarl-Oos, die Mbekweni polisie in kennis gestel en ook ’n helikopter ontbied.
Drie verdagtes en ’n vuurwapen is vinnig op die oop stuk grond tussen die nywerheidsgebied en Mbekweni opgespoor, terwyl die helikopter vergeefs gesoek het na ’n vierde verdagte.
Drie verdagtes het Maandag in die Paarl Landdroshof verskyn op aanklag van gewapende roof. Hulle is Nkeba Ntyapu, Nkikelo Siwahla en Yelani Sogibe, almal van Fairyland.
* Three men appeared in court after an armed robbery in Paarl.
More
News
|