Massa aflos-byeenkoms by Laerskool Courtrai
2006-10-26
Sonja Burger
DIE Sporttrust van Laerskool Courtrai bied op 9 November van 17:15 vir die derde agtereenvolgende jaar sy massa-aflosatletiekbyeenkoms by die Brugstraat-velde aan.
’n Totaal van 470 atlete van sewe plaaslike skole gaan die stokkie opneem en laat waai in ’n verskeidenheid aflositems, waaronder ongewone wisselwedlope.
Bekende WP rugbyspelers JD Moller en Andries Bekker sal die byeenkoms as eregaste bywoon en handtekeninge uitdeel.
Volgens Tanya Malherbe, ’n oud-middelafstand Springbokatleet wat aan die stuur van sake staan, is die doel van die byeenkoms massadeelname en die bou van spangees.
“Daar is nie nog ’n laerskole-aflosbyeenkoms wat net op aflosse konsentreer nie. Aflosse plaas minder druk op die individu en konsentreer op spanwerk, wat aan die byeenkoms die opwinding en samehorigheid verleen wat mens gewoonlik met spansporte assosieer,” verduidelik Malherbe.
Die ongewone afstande wat tydens die wisselwedlope gehardloop sal word, is volgens Malherbe gunstig vir die voorseisoen.
“Dit is altyd goed om ‘om’ die standaarditems te hardloop tydens die voorseisoen omdat daar gedurende die seisoen nie die geleentheid daarvoor bestaan nie.”
Die byeenkoms duur tot 19:00. Toegang is R5 (R2 per nie-deelnemende leerder).
More
News
|