Bien Donné Expo kom
2006-10-26
DIE Bien Donné Expo vind plaas van Donderdag 2 November tot Saterdag 4 November op dié pragtige plaas tussen die Paarl en Franschhoek en beloof om ‘n ware plattelandse ervaring te wees.
Met meer as 200 ondernemings wat by vanjaar se Expo betrek word, gaan dit na verwagting een van die grootstes wees sedert dit in 1942 deur LNR Infruitec-Nietvoorbij begin is. Attraksies sluit in daaglikse demonstrasies wat al om die uur gehou sal word deur bekendes soos televisie se Nutsman. Boonop kan daar uitgesien word na ‘n plaasmark met boegoe, olywe, olyfolie, biltong en meer sowel as ‘n daaglikse varsproduktemark met vars plaasgroente.
Tussendeur kan besoekers eet, drink en gesellig kuier onder skaduryke priële terwyl die kleingoed na hartelus baljaar in die geselskap van hul gunsteling plaasdiere in die Kinder Speelhoekie.
Twee tintelende vroue-oggende op Donderdag 2 en Saterdag 4 November vorm deel van die verrigtinge. Gaste sal vermaak word deur Charlene Truter van Pasella-faam en mooi-maaksessies deur Elizabeth Arden konsultante.
Boonop gaan die bekende skrywer, Riana Scheepers, voorlees uit haar nuwe boek, Die melkweg het ‘n ster laat val. Toegangskaartjies sluit in ‘n ontbyt en kan vooraf bespreek word teen R100 per persoon.
Die hekke sal van 09:00 tot 18:00 oop wees op Donderdag 2 en Vrydag 3 November en van 08:00 tot 16:00 op Saterdag 4 November. Kaartjies isR30 (R10 vir kinders bo 6) sal by die hekke beskikbaar wees. Kaartjies vir plaaswerkers kan vooraf bespreek word teen ‘n afslagtarief van R15.
Vir verdere inligting, kontak Elma Brand by tel 863-0397, sel 082-808-1114 of e-pos events@definitelydiffe rent.co.za.
More
News
|