Horne dalk 'n Sewes-Bok
2006-10-26
HY was opgewonde om die naweek te hoor dat hy in die oefengroep van die SA Sewespan opgeneem is.
Maar sê Frankie Horne, hy is ook "half skepties aan die een kant."
"Dis 'n taai poel, met ouens soos Kabamba Floors, wat sekerlik gekies sal word om in die eerste toernooie te speel," het die speler van Wellington gesê.
"Die res van die oefengroep is daar om 'n sterk reserwe-poel van spelers in plek te kry."
Horne is een van drie Boland Kavaliers wat in die groep ingesluit is. Die ander twee is Rayno Benjamin en Renfred Dazel.
Horne was vroeër vanjaar deel van die opkomende Springbok Sewespan.
Die Boland het die naweek Saru se Interprovinsiale Seweskompetisie in Ravensmead gewen, toe hy vir Grens in die eindstryd 42-12 geklop het.
Horne se insluiting in die nasionale groep is 'n pluimpie vir sy klub, Wellington Rugbyklub.
Die eerste span het vanjaar tweede in hul liga geëindig, terwyl die tweede en derde spanne hulle afdelings gewen het.
“Ek dink dit is baie goed as jy in ag neem dat ons twaalf senior spelers van verlede seisoen verloor het weens kontraktuele verpligtinge,” verduidelik voorsitter Dolf Stemmet.
Vyf van dié spelers is na die Kavaliers toe, terwyl die ander in die Kaap gaan speel het vir geld.
“Ek het nog altyd gevoel klubrugby moet ’n platform skep vir spelers om te ontwikkel vir ’n volgende vlak.
“Daarom voel ek geld moet liewers op afrigters as spelers bestee word.
“In my dae wou ek weet wie is die afrigter, nie wat betaal die klub nie.”
Stemmet sê intusssen werk sy bestuur hard om Wellington weer ’n topspan te maak.
“Ons het baie talent, hulle is net baie jonk. Ons het vanjaar sewe o.21-spelers in die begin vyftiental gehad, met ’n gemiddelde ouderdom van 21,8 jaar in die eerste span.
“Volgende seisoen is hulle harde baarde wat ons goed te staan gaan kom.
“’n Mens moet aanvaar dat as jy sukses behaal, gaan mense skep. Dit het met ons begin en ons is nou weer in ’n boufase.
“Ek glo volgende jaar gaan ’n goeie jaar vir Wellington wees.”
Die bestuur werk ook reeds hard aan die tweede Wellington Rugbydag wat op 14 Maart sal plaasvind. Tien Kaapse en tien Bolandse klubs word na dié dag genooi.
* Die klub se jaarlikse wynveiling vind op Donderdag 2 November om 19:00 op Schalk Burger se plaas Welbedacht plaas.
Die gasspreker is Alan Zondagh, terwyl grapmakers Nico Nel en Wikus van der Merwe vir ’n ligter noot sal sorg.
Tafels teen R2000 vir 10 mense is beskikbaar by Stemmet, 083-303-0960.
More
News
|