Hierdie busdiens kan ons nie weer gebruik
2006-10-26
NAMENS die Goue Gerwe Senior Burger Klub van die AGS Protea Gemeente in die Paarl wil ons om verskoning vra vir die ongerief met die laaste twee uitstappies.
Op 10 Augustus het ons ’n uitstappie gereël na die Skool vir Dowes in Worcester. Ons het van Ruiters Busdiens van die Paarl gebruik gemaak.
Ons was teleurgesteld met die vuil toestand van die bus en veral die ruite. Ek het dit onder mnr Ruiters se aandag gebring en gevra dat hy asseblief moet toesien dat, as ons weer ’n bus by hom bespreek, die bus skoon is.
Op 2 September het ons weer sy busmaatskappy gebruik op ’n uitstappie na Nieuwoudtville om te gaan blomme kyk.
Die bus het sommer met die wegtrek uit die Paarl al begin ruk en dit was duidelik dat dit nie in ’n behoorlik versorgde toestand was nie. Die bus het Piekenierskloof met groot gesukkel uitgekom, maar in Vanrhynsdorp gebreek. Ons het Ruiters, gebel maar sy foon was afgeskakel.
Van die senior burgers in die toer wat bietjie motorkennis het, het toe die bus op ’n manier aan die gang gekry, maar ons moes omdraai aangesien ons dit nie verder wou waag nie.
Die bus het toe ook so swak getrek dat die drywer besluit het dit is beter om Graafwater om te ry om sodoende die passe te vermy, aangesien dit duidelik was dat die bus nie die pas sou uitkom nie. Dit het ons langer as ses ure geneem van Vanrhynsdorp terug na die Paarl.
Ek het mnr Ruiters dadelik laat verstaan dat hy ons in groot verleentheid gestel het, aangesien die mense almal betaal het vir die uitstappie en ons ontevrede is met die toestand van die bus.
Ons bespreek toe weer ’n bus om Saterdag 14 Oktober na Houtbaai te gaan. Ek vra hom toe om asb seker te maak dat die bus in ’n goeie toestand is en dat ons krediet sou kry vir die Nieuwoudtville-uitstappie.
Op 4 Oktober het ek weer met hom bevestig dat alles in die haak is en dat die bus om 08:30 vanaf die Protea moet vertrek. Hy het bevestig dit is reg.
Vrydag,13 Oktober het ek hom gebel om weereens te bevestig. Ek kon tot Vrydagaand nie deurkom na hom toe nie.
Saterdagoggend was die groep van 42 senior burgers reeds van 07:30 by die Protea, maar die bus daag nie op nie. Sy foon bly af en ons kon geen kontak met hom maak nie.
Dit was nie net teleurstellend vir die groep nie, maar vernederend vir die bestuur omdat die indruk gewek word dat ons nie behoorlik kan organiseer nie.
Van die mense in die groep het vanaf Ceres, Worcester, Wellington, Paarl en Kaapstad gekom.
As dit mnr Ruiters se manier van besigheidsbestuur is, sien ek maar swarigheid vir hom vorentoe aangesien ons definitief nie weer van sy dienste gebruik sal maak nie.
Mynhard van der Westhuizen
Mnr Ruiters wou nie kommentaar lewer op die klagtes nie. - Red.
More
News
|