Spies tree op in skemerkonsert
2006-10-26
SONDAG om 17:00 tree Maria Spies by die Frank Pietersen Musieksentrum op in ’n skemerkonsert.
Sy speel Beethoven se Sonate Opus 109 in E majeur, die Evocation en El Puerto uit Albeniz se Iberia en Chopin se Prelude Opus 28 (No 22 in G mineur, no 23 in F majeur en no 24 in D mineur).
Maria begin haar klavieronderrig op die ouderdom van ses by haar moeder. Op dertienjarige ouderdom begin sy privaatlesse by Marian Friedman en sit haar klavierstudies daarna voort onder Francois du Toit.
In 2000 verwerf sy die graad B.Mus aan die universiteit van Potchefstroom Cum Laude.
In 2000 neem sy deel aan die Salzburg Internationale Sommerakademie en woon meestersklasse by wat aangebied is deur Andrezj Jasinski. Na afloop van haar voorgraadse studies studeer sy vir een jaar by die Prayner Konservatorium für Musik und Dramatische Künst in Wene. Sy ontvang ook meestersklasse van Anton Nel, Frank Heneghan en Matthew Manwarren.
Op veertien tree sy die eerste keer as solis op saam met die Johannesburgse Simfonie-orkes en daarna drie keer saam met die destydse Nasionale Kamerorkes.
Maria is tans besig met ’n meestersgraad in klavieruitvoering by die Universiteit van Kaapstad en is student van Francois du Toit. Sy is ook ’n deeltydse viool- en klavieronderwyseres by Sweet Valley Primêre Skool.
In 2005 was sy in diens van die Frank Pietersen Musieksentrum waar sy ook viool en klavier onderrig het.
Kaartjies kan bespreek word by 872-2123.
More
News
|