Twee Paarl-atlete in SA Jeugspan opgeneem
2005-04-28
TWEE atlete van die Paarl is in die SA Jeugspan opgeneem wat in Junie in Marrakesj, Marokko, aan die Wêreld Jeugkampioenskappe gaan deelneem.
Keenan Watson van Hoër Jongenskool Paarl en Louw Smit van Paarl Gimnasium sal albei hoop om tydens dié byeenkoms hul merk in die internasionale atletiek-arena te maak.
Albei atlete neem in die o.17 ouderdomsgroep deel.
Watson het vanjaar behoorlik skoonskip gemaak in die verspring-item en goud verower by die Boland kampioenskappe, Wes-Kaap Kampioenskappe, SA Skolekampioenskappe, en die SA Junior Atletiekkampioenskappe.
Hy het ook deurgedring na die finaal tydens die onlangse SA Senior Atletiekkampioenskappe en het algeheel sesde geëindig.
Watson wat spog met ’n beste afstand van 7,62, ’n nuwe Boland-rekord wat hy tydens die SA Skolekampioenskappe in die Paarl opgestel het, is tans die nommer een o.17 verspring-atleet in die land, is derde gekeur op die SA Junior ranglys en sesde op die SA Senior ranglys.
Smit is tans die vinnigste o.17 atleet in die 110mH in Suid-Afrika, met ’n beste tyd van 13,62s.
Dié tyd het hy in ’n donderstorm tydens die SA Junior-byeenkoms in Germiston behaal.
Volgens Richard Stander, hoof uitvoerende beampte van Boland Atletiek, het hy goeie vooruitsigte vir dié twee atlete.
"Albei dié atlete is van wêreldgehalte en ons voorsien dat hulle goeie vertonings sal lewer tydens dié kampioenskappe," het Stander gesê. Nog twee Boland-atlete is ook in die span opgeneem.
More
News
|