Paarliet mik na Egoli
2006-10-26
XANTHE-LINN het daardie “iets” wat nodig is om ’n ster te word.
Só sê haar drama-onderwyser, Wiwe Ras-Pretorius, van haar student wat binnekort ’n gasrol in die TV-sepie Egoli gaan speel.
Xanthe-Linn Meyer, in graad 10 by Hoër Meisieskool Paarl, was een van 50 leerders wat tydens die onlangse Cultivaria-fees ’n dramawerkswinkel van Brümilda van Rensburg bygewoon het.
Sy neem nog net ’n jaar dramaklasse, maar sy het vroeër vanjaar reeds ’n hoofrol losgeslaan in HMS en HJS se ‘Boyfriend’.
“Ek wou van kleins-af akteur word,” vertel Xanthe-Linn en voeg by dat haar kop silwerdoek toe staan.
Sy was nie aanvanklik gekeur vir die werkswinkel nie, maar toe een van haar klasmaats kop uittrek, het sy die kans gebruik.
En daar het sy vinnig Brümilda se oog gevang: “Sy het ’n goeie sin vir komedie, is pragtig en het ’n goeie stem.”
Brümilda sê sy het gesukkel om ’n wenner te kies: “Die standaard was oor die algemeen baie hoog.”
Sy is nie heeltemal sonder kritiek nie: “Ek was verbaas dat net tien kinders uit die vyftig geweet het hoe om hulle diafragma te gebruik. Ek glo hulle het baie geleer.”
Die aktrise was ook baie beïndruk met Cultivaria: “Ek wil ook persoonlik dankie sê en almal gelukwens met die grasie waarmee die fees aangebied was - ek kan nie uitgepraat raak daaroor nie.”
More
News
|