Paarl het weer 'n straatskilder
2006-10-26
MENSE loop nuuskierig stadiger en probeer loer na die man wat ongesteurd besig is om te staan en skilder in die Hoofstraat van die Paarl.
Vroeër jare was dit natuurlik die bekende David Botha wat gereeld esel opgeslaan het in die Paarlse strate.
Nou is dit Wessel Lemmer wat hierdie tradisie laat herleef.
“Die Paarl bied met sy geskiedkundige argitektuur, pragtige straattonele, plattelandse atmosfeer, lieflike mense en behulpsame kunsgalerye ’n besondere milieu waarin waterverfskilder beoefen kan word,” vertel hy.
“Gedurende my studentedae as landboustudent in Bloemfontein in die vroeë 1990’s het ek en my vrou een Saterdagmiddag verby die kerksaal in Bloemfontein gestap.
“Daar het my liefde vir waterverf begin nadat Anita Oliphant van die Bloemfonteinse Waterverf Skildergroep ’n skildery waaraan sy besig was om te werk, aan my gegee het.
“Ek het by die groep wat onder andere Louis Hiemstra en Nannie Henning ingesluit het, my eerste spore in waterverfskilder getrap.”
Na hul verhuising na Potchefstroom het Wessel by Barend Grobbelaar se Studio Visio Kunsskool vir ’n tydperk van drie jaar deeltyds ingeskryf vir skilderkunsklasse en die basiese beginsels onder die knie gekry.
“Ek skilder graag tonele wat my toelaat om die natuur en die lig daarin te ervaar.
“Dit is ook die rede waarom ek waterverf bo ander mediums verkies. "Dit is ’n gerieflike, draagbare medium wat jy op staptogte en vakansies kan vergesel.
“Een van my gunstelinge is ’n toneel van ’n verlate geel kano op die oewer van die Touwrivier in Wildernis. Dit was ’n reënerige dag vol atmosfeer. Die druppels reën het letterlik sy merk op die skildery gelaat.
“As ek die atmosfeer en belewenis op ’n bepaalde tydstip met ’n paar gekose kwashale kan vasvang is ’n skildery vir my ’n sukses - ’n herinnering aan ’n besondere moment in my lewe wat ek graag met ander deel.
“Omdat die medium soveel selfverwesenliking inhou en boonop nie veel ruimte in jou huis in beslag hoef te neem nie, vorm dit ’n uitstekende stokperdjie.”
More
News
|