Kavaliers nog in met 'n goeie kans
2005-04-28
DIE Boland Kavaliers het Vrydag 37-28 teen die Luiperds vasgeval, maar is steeds in ’n baie gunstige posisie om vir ’n plek in die halfeindstryd en miskien selfs ’n tuishalfeindstryd te kwalifiseer.
Die swaar pak van die Luiperds het op Boland Stadion die Kavaliers harde bene laat kou en veral in die vaste skrums oorheers.
Daarby het die tuisspan die dienste van sy staatmaker agsteman, Henley du Plessis, erg gemis. Du Plessis sou gespeel het, maar het Vrydagoggend nie goed gevoel nie.
Hoewel die afrigterspan hom in die span gehou het, is daar tydens die opwarmingsessie besluit om hom te onttrek.
Die Kavaliers het Du Plessis se vinnige skoonmaak by die losgemale en sy klipharde verdediging om die some van die vaste fasette grootliks gemis.
Die afstaan van omgekeerde besit was juis een van die tuisspan se groot kopsere.
Om dié faset van hul spel op te skerp is die kaptein, Conrad Burke, van sy hakerposisie weer teruggeskuif flank toe.
Nadat Jaco Engels (haker) en Ruaan du Preez (vaskop) in die tweede helfte vir Tommy Dixon en Burke vervang het, het dinge in die skrums heelwat beter gegaan. Dit is dan juis hoekom dié twee in die begin-vyftiental is wat môre in Oos-Londen die Grens Bulldogs die stryd aansê.
Die skopvoet van Solly Goosen wat Vrydag sy 50ste wedstryd vir die Boland gespeel het, het ook gelol en die ervare staatmaker het gesukkel om sy visier ingestel te kry.
Die twee vleuels, Rayno Benjamin en Jonghikhaya Nokwe wat onlangs teruggekeer het van die Singapoer Sewestoernooi, sal weer môre in aksie wees, terwyl Jacques Badenhorst ook van sy heupbesering herstel het, en Kobus Meintjies (wat na die plaasvervangerbank skuif) op binnesenter sal vervang.
Tuishalfeindstryd wink steeds
Hoewel Boland oorgehaal is om die Bulldogs môre in hul eie agterplaas pak te gee, kan hulle steeds kwalifiseer vir ’n halfeindstryd sou hulle vasval.
Die Kavaliers (21 punte) is tans tweede in Afdeling X, met die Blou Bulle (23) wat bo lê, en die SWD Arende (19) derde.
In Afdeling Y is dit die Griekwas (20), Luiperds (20) en Cheetahs (19) wat in die eerste drie plekke lê.
As die Cheetahs die naweek die Blou Bulle in Bloemfontein kan klop, en die Luiperds die SWD Arende laat les opsê, is die Kavaliers verseker van ’n halfeindstryd al verloor hulle.
Sou die Bulle wel verloor en die Kavaliers slaag met ’n wen, kan die halfeindstryd op Wellington beslis word.
“Ons is oorgehaal om ’n tuishalfeindstryd te verseker,” het die Kavaliers se spanbestuurder, Denver Pienaar, Dinsdag gesê.
Die span Boland-span is Antonius Verhoeven, Rayno Benjamin, Piet van Zyl, Jacques Badenhorst, Jonghikhaya Nokwe, Solly Goosen, Charl Blom, Henley du Plessis, Angelo Brinkhuys, Conrad Burke (k), Nicky Smit, David de Villiers, Ruaan du Preez, Jaco Engels, Fabian Brandt.
More
News
|