Hoofmeisie wen beurs
2006-10-26
DIE hoofmeisie van ’n plaaslike laerskool het so pas verneem dat sy ’n vyfjaar-studiebeurs gewen het by die Fidentia SA Jeugkoor.
Sy is Amy Jones (13) van Denneburg in die Paarl, hoofdogter by Drakenstein Laerskool. Die studiebeurs van R70 000 per jaar sal aangewend word vir die duur van haar sekondêre skoolloopbaan by Stellenberg Hoërskool in Durbanville, die skool waarnatoe sy volgende jaar sal moet gaan om verder te kan leer.
Die beurs dek al haar koshuisverblyf, skoolgeld, skool- en koorklere, boeke en selfs reisonkostes indien sy gekies sou word om op ’n buitelandse koortoer te gaan.
Amy is een van slegs 77 leerlinge wat uit ’n groot aantal aansoekers landwyd gekies is om by die Jeugkoor aan te sluit.
Dié skrander dogter is die derde en jongste kind van Harris en Elizabeth Jones van Auburnstraat in Denneburg. Ma werk by ’n makelaarsfirma en pa is onderwyser by New Orleans Sekondêr. Amy het kleintyd al aan sang- en talentkompetisies deelgeneem.
Toe sy nege jaar oud was, was sy derde in die KWV-talentkompetisie. In die onlangse Idols (Paarl) kompetisie het sy weer derde gekom.
“Ek het groot geskrik toe my pa my kom vertel dat ek gekwalifiseer het vir die beurs, en kon my ore nie glo nie,” sê Amy.
“Ek is gelukkig aan die een kant, maar voel so bietjie hartseer dat ek een van die dae weg van die huis af sal moet skoolgaan. Ek kom darem naweke huis toe as ons nie gaan oefen of deelneem aan kompetisies nie,” het sy gesê.
Haar pa sê: “Ons het nie vir Amy vertel dat ons aansoek vir die beurs gedoen het nie. Dis eers nadat sy gekwalifiseer het vir die oudisies dat ons haar vertel het.”
“Die beurs skep vir haar baie geleenthede wat nie almal beskore is nie. Sy sal hard moet werk om haar musiekloopbaan ’n sukses te maak.”
Volgens haar klasonderwyser, Nelius Rossouw, is Amy ’n ster.
“Sy lewer puik werk van hoogstaande gehalte en openbaar 'n pragtige gesindheid.”
Dis woorde wat deur haar skoolhoof, Stephen Hoffman, beaam word.
* The headgirl of a local primary school has won a choir bursary for her high school years.
More
News
|