'Af siek' nie in hul woordeskat nie
2006-10-26
’n MATRIEKLEERLING by Hoërskool La Rochelle ken nie die woorde “af siek” nie. Ilze Groenewald het nog nie een dag skool gemis sedert graad een nie - en volg hiermee in haar ma se voetspore.
Haar ma, Elna, het in 1978 by La Rochelle gematrikuleer waar sy van graad een tot matriek ’n leerder was, ook sonder ’n dag af. Ilze (18) het haar laerskoolloopbaan begin by die Laerskool Panorama waarna sy na die Hoërskool Tygerberg is. In graad 11 is sy na La Rochelle om sodoende by haar ma se alma mater te matrikuleer.
Die meeste kinders draai een of ander tyd stokkies, maar Elna en Ilze het elke dag getrou skool bygewoon.
“Ek het my kinders van kleins af geleer dat as jy met iets begin druk jy deur tot die einde toe.
“In die algemeen is ons ’n gesonde familie, en dit was nog nooit nodig vir een van my kinders om ’n dag van skool te mis nie,” sê Elna.
“In my skooldae was daar ook geen rede dat ek ’n dag moes misloop nie.”
Ook Ilze sê dat daar nog nooit vir haar ’n rede was om nie skool toe te gaan nie. Sy is onlangs by La Rochelle se prysuitdeling vereer vir haar prestasie.
Die jongste Groenewald, Gerda (13), is goed op pad om in haar ma en suster se spore te volg, want tot in graad sewe het sy nog nooit ’n skooldag gemis nie.
* A mother and daughter celebrate not missing one school day from first grade to matric at La Rochelle High.
More
News
|