Trommels vol leesgenot vir skole
2006-10-26
AGTTIEN Wes-Kaapse skole is elk ’n trommel vol splinternuwe boeke ryker te danke aan n gesamentlike projek van die Afrikaanse Taalmuseum, die Vriende van Afrikaans (VVA) en Biblionef.
Tien primêre skole van Piketberg tot Hermon het reeds trommels ontvang wat volgens elke skool se spesifieke behoeftes saamgestel is. Bosplaas Primêr (Hermon) was een van dié gelukkiges.
Nog agt boektrommels word op 26 Oktober aan sewe Educare-sentrums en die Bergzicht Opleidingsentrum op Stellenbosch oorhandig.
Die VVA het die skole geïdentifiseer met die hulp van die Afrikaanse Skrywersvereniging, die Bergzicht Opleidingsentrum en dr Michael le Cordeur, kringbestuurder van die WKOD.
Biblionef het sedert 1998 al meer as 250 000 boeke aan meer as 1,5 miljoen kinders geskenk.
Kinderboeke is beskikbaar in al elf amptelike Suid-Afrikaanse tale en ook in Braille en grootdruk.
Biblionef se diens sluit ook voortdurende kontak met skole in om hul behoeftes te bepaal, en skole lewer ook terugvoering aan die organisasie oor leerders se vordering.
Die Afrikaanse Taalmuseum ondersteun die boektrommelprojek as deel van hul uitgebreide opvoedkundige programme vir laer- en hoërskole.
Die museum se programme fokus op kulturele diversiteit en veeltaligheid en dek leerareas soos Taalkunde, Sosiale Wetenskap en Kuns en Kultuur.
Die programme word by die museum en die monument in die Paarl, asook by skole self aangebied. Die museum se opvoedkundige span het onlangs by verskeie skole in die Noord-Kaap besoek afgelê. Die tweede boektrommeloorhandiging vind op 26 Oktober om 10:30 by die Bergzicht Opleidingsentrum plaas.
Jean Williams, die uitvoerende direkteur van Biblionef, sal ’n lesdemonstrasie lewer.
Belangstellendes kan Amanda de Stadler van die VVA by 808-3744 kontak indien hulle die verrigtinge wil bywoon. Biblionef kan gekontak word by 531-0447 en die Taalmuseum by 872-3441.
More
News
|