Nieuwedrift kry Wheely Wagon
2006-10-26
KENNIS is deug en met toe boeke bly jou binneste leeg.
Met hierdie boodskap het burgemeester Charmaine Manuel onlangs die nuwe satellietbiblioteek, die Wheely Wagon, by Nieuwedrift Primêr bekend gestel.
Sy sê hulle het tydens die GOP-proses bewus geword van die gemeenskap se dringende behoefte aan ’n biblioteek.
“Hierdie is net die begin, daar is ’n groot honger na boeke in die gemeenskap en ons sal baie meer moet doen.”
Die Wheely Wagon-projek is in 2004 deur die Provinsiale Biblioteekdiens geloods en staan onder leiding van Alida Zandberg. Dit bestaan uit twee staal boekwaentjies met 1200 boeke.
Die inhoud van die een trollie is gefokus op kinders en bestaan uit sprokiesverhale terwyl die ander trollie naslaan-, fiksie- en nie-fiksieboeke bevat.
Die Nieuwedrift Wheely Wagon word beheer deur ’n vrywilliger, Petro Gelant.
Sy is deur die Drakenstein biblioteekdiens opgelei en sal ook deur hulle ondersteun word.
Martie Kruger, voorsitter van die Vriende van die Meulstraat-biblioteek, het ook die projek ’n hupstootjie gegee met die skenking van ’n fotostaatmasjien.
Dit sal leerders help met navorsing.
Skoolhoof Chris Bam sê die opening van hul eie biblioteek sluit aan by die skool se visie om ’n belangriker rol te speel in hul gemeenskap.
“Ek het die leerders lanklaas so entoesiasties gesien. "Hulle is reeds almal ingeskryf by die biblioteek.” Hy sê die uitdaging is om die volwassenes ook te betrek en ’n leeskultuur te vestig.
More
News
|