Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Plaas loop weer deur

Plaas loop weer deur
 
2006-11-02


“DIE rewolwer was op my gesig gerig en ek het gesien dat daar geen koeëls in die magasyn was nie. Ek het gesê ‘Here help my,’ en my aanvaller aangevat.”

So sê Sampie van Vuuren nadat hy vir die tweede keer in ’n jaar deur gewapende rowers aangeval is.

Vier mans het Dinsdag om 11:30 hul pad tot in die kantoor van die Nantes pluimveeplaas noord van die Paarl verkry.

Personeellede Anita Laubscher en Anton Claasen is vasgebind terwyl die mans die sleutel van die kluis geëis het.

Toe daar aan hulle gesê is dat hulle nie die sleutel het nie, het twee van die mans buite die algemene bestuurder, Sampie van Vuuren, en sy assistent, Andries van Vuuren, oorrompel en vasgebind.

“Een man het ’n rewolwer gehad en twee ander ’n panga en ’n broodmes.

“Die nagmerrie van verlede jaar het weer voor my afgespeel, maar dit was die werklikheid,” het ’n erg geskokte Sampie gesê.

Hy is in Augustus verlede jaar ook deur vier mans op die plaas aangeval.

Hy is vir ’n halfuur lank gemartel voordat hulle sy trouring, selfoon en bakkiesleutels gesteel het. Die rowers het toe met rekenaars en ander kantoortoerusting op sy bakkie weggejaag.

“Hierdie keer het die een man my met sy voet getrap en vasgebind terwyl ’n ander rower die rewolwer in my gesig gedruk het.

“Ek het terugbaklei en is hard teen die kop geslaan met die panga.

Terwyl die bloed uit my voorkop geloop het, het ek aanhou baklei.”

Teen dié tyd het Andries sy hande losgekry en hom ook teen die rowers begin verset. Hulle het vir Andries met ’n graaf gegooi voordat hulle oor ’n grensdraad deur die wingerd ontsnap het.

Die rowers het weggekom met twee selfone en ’n beursie.

Andries en Sampie het die werknemers in die kantoor bevry en die polisie en ’n ambulans ontbied.

’n Polisiesoektog na die voortvlugtiges het gevolg, met die hulp van ’n polisiehelikopter en die honde-eenheid.

Patrollie voertuie het tussen die Paarl en Wellington gejaag op soek na die vier mans. Wingerde en olyfboorde is gefynkam.

Twee verdagtes van Mbekweni is op die Lady Lochpad in hegtenis geneem. Die ander twee is steeds op vrye voet.

“Ná verlede jaar se rooftog het ons derduisende rande spandeer om ons sekuriteit op te knap, maar na dié voorval sal ons verdere veiligheidsmaatreëls moet tref,” het Sampie gesê.

* A poultry farmer was attacked on his farm outside Paarl for the second time in a year.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za