Boere trek op na Bien Donné
2006-11-02
WINGERD-, sagtevrugte-, sitrus- en tamatieboere is deesdae ekstra versigtig met hul omgewing en uitstallings by die Bien Donné Landbou Expo beklemtoon dié neiging.
Die Bien Donné Landbou Expo word op 2, 3 en 4 November op dié pragtige plaas tussen die Paarl en Franschhoek gehou en gaan na verwagting meer belangstelling as ooit geniet.
Met die gebrom en onsekerheid oor oliebronne en -pryse is bio-diesel en etanol deesdae groot nuus en sal navorsing deur Cape Biofuel en hul demonstrasie oor die eenvoud waarmee na dié soort brandstof oorgeskakel kan word, ‘n groot trekpleister wees in die navorsingsafdeling.
So ook uitstallings oor nuwe vorms van geïntegreerde plaagbeheer en oor navorsing deur Rovic & Leërs en die US oor die mees doeltreffende spuitnavorsing op wingerd.
So tussen die ernstige werk sal expo-gangers die 400 sitplek Agri-Expo Arena vir vermaak uit die hoogste rakke kan besoek. Van die bekendes wat te sien en te hoor gaan wees is televisie se Nutsman en die musiekmaker, Wynand Windpomp.
Hondvertonings, laserskiet en demonstrasies is ook op die program Twee tintelende vroue-oggende op Donderdag 2 en Saterdag 4 November vorm deel van die verrigtinge.
Gaste sal vermaak word deur Charlene Truter van Pasella-faam, ‘n modeparade met skeppings deur Liezel King en mooi-maaksessies deur Elizabeth Arden konsultante.
Boonop gaan die bekende skrywer, Riana Scheepers, voorlees uit haar nuwe boek, Die melkweg het ‘n ster laat val. Toegangskaartjies sluit in ‘n vonkelwynontbyt en kan vooraf bespreek word teen R100.
Aksie-belaaide items soos ‘n trekkerdrywerkompetisie tussen plaaswerkers van Paarl en ander streke en ‘n 10km bergfietsren sit wip in die program. Fietsryers kan Dirtopia by 884-4752 skakel om in te skryf.
Die hekke sal van 09:00 tot 18:00 oop wees op Donderdag 2 en Vrydag 3 November en van 08:00 tot 16:00 op Saterdag 4 November. Kaartjies is R30 (R10 vir kinders bo 6) sal by die hekke beskikbaar wees. Kaartjies vir plaaswerkers kan vooraf bespreek word teen ‘n afslagtarief van R15.
More
News
|