Hierdie nagklub is 'n groot probleem
2006-11-02
NADAT ek gekla het oor die nagklub in Lady Greystraat het die polisie belowe dat alle klagtes ondersoek sal word. Maar ongelukkig is dit nie die geval nie. Ek is ook besig om my geld te mors op die baie oproepe na die polisie.
Vrydagoggend 20 Oktober het ek net na twee-uur wakker geword van die lawaai regoor my venster. Dieselfde het met my buurman gebeur. Van die mense wat daar gekuier het, het lawaai en baklei in die wit voertuig.
Vier staanplekke agter die voertuig het ‘n polisievoertuig met ligte aan gestaan. Ek het die polisiestasie gebel en gevra dat hulle die polisie in die voertuig kan laat weet om die mense stil te maak. Wel, die polisie het nie eens die moeite gedoen om die deur van hulle voertuig oop te maak nie.
Die insittendes van die wit voertuig was goed onder die invloed. En die lawaai word net erger. So erg dat ek woord vir woord hoor - selfs toe een sy tande verloor iewers in die kar!
Maar steeds sit die polisie. Ek wil ook graag noem dat die polisie gesien het my buurvrou is wakker, en sy het vir hulle gewys na die wit voertuig. Maar steeds sit die polisie.
Uiteindelik na baie, baie minute probeer die voertuig wegtrek, die drywer goed onder die invloed.
Ek het ‘n tweede oproep gemaak, en elke keer word daar gesê “ek sal hulle laat weet”.
Wat vir my so interessant is, is dat die polisie toelaat dat mense so bestuur en dat die mense maar so in die nagtelike ure ‘n lawaai mag maak.
Dit is darem in die middedorp en daar is twee woonstelblokke regoor die nagklub. Ons in die woonstelblok wil weet wat ons moet doen om weer rustig te slaap?
Ek het altyd gedink die polisie is hier om wet en orde te handhaaf, maar ek weet werklik nie wat die Paarl Polisie se missie is nie. Om die waarheid te sê, die polisie sal verbaas wees om te weet hoeveel mense dieselfde voel!
Antoinette Engelbrecht
More
News
|