Boland Atletiek vergader
2006-11-02
DIE 14de algemene jaarvergadering van Boland Atletiek word Saterdag in die Pniel Gemeenskapsaal gehou.
Alle atletiekklubs in die Boland, asook verteenwoordigers van die hoër- en laerskole, en die Boland Meesterskomitee sal teenwoordig wees.
Tydens die vergadering sal die president van Boland Atletiek, dr Harold Adams, se jaarverslag aan die lede voorgelê word vir goedkeuring. Die voorlegging sal geskied onder die onafhanklike toesig van Conwal du Plessis, raadslid van die Kaap Wynland Distrik Munisipaliteit.
Verskeie sake is ook op die agenda geplaas vir bespreking. Die belangrikste hiervan is die goedkeuring van die datumbepalingslys vir die 2007 Atletiekseisoen.
’n Puntestelsel vir die 2007 Boland Atletiek Ligabyeenkomste sal ook deur ’n spesiale komitee aan die lede voorgelê word vir bespreking.
Tradisioneel sal die registrasiegelde, inskrywingsgelde en heffings vir die 2007 Atletiekseisoen, die vorderingsverslag van die hoof uitvoerende beampte en die finansiële verslag van die tesourier aan die lede voorgelê word vir goedkeuring.
More
News
|