Paarl-Oos jaag aan
2006-11-02
AS hulle nog op skool was, sou die spelers van Paarl-Oos Krieketklub vandeesweek warm sitvlakke gehad het nadat hulle tonneltjie gekruip het by hul oefening.
Die eerste span van die GM Thorp Paarl-Oos Krieketklub het Saterdag met swak besluite hulself in die voet geskiet teen Worcester United.
Op New Orleans het die tuisspan sake redelik onder beheer gehad nadat hulle vir Worcester tot 93/7 beperk het in die 40ste beurt.
Ongedissiplineerde boulwerk en lamsakkige veldwerk het egter daartoe gelei dat Nolan Loff (63 4x3) en Jeremy Amsterdam (33nun 4x2) met ’n vennootskap van 66 ’n verdedigbare 185/9 op die telbord kon sit.
Met agt erkende boulers in sy span, is dit ’n ope vraag hoekom die kaptein, Jackie Daniels, in Saterdag se hitte besluit het om net vier spelers te laat boul.
Dié dag kon egter nog goed vir die Paarliete uitgedraai het, was dit nie vir die onoordeelkundige kolfwerk van die stert-kolwers nie.
Met 12 beurte oor en slegs 23 lopies kort van die teiken, met drie paaltjies in die sak, was ’n geduldige, koelkop-vertoning al wat verlang was.
Dit blyk die kolwers wou egter die wedstryd met skouspelagtige houe in die sakkie kry en het met hul paaltjies daarvoor geboet. Die klubpresident, Andrew Apollis, en die beseerde kaptein, Craig Abrahams, was albei ewe verontwaardig toe hul span in die 55ste beurt op 175 uitgeboul is.
Paarl-Oos se Elroy Abrahams (2/24 in 15bb, 4 leeg en 36nun) het sy alles gegee, terwyl Zynodien Fredericks (1/42 in 15bb, 1 leeg), Wilton van Neel (27 4x3), David Strauss (22 4x1, 6x1) en Bruce Miller (20 4x3) ook moedig probeer het.
Vir die besoekers het James Albanie (4/51 in 15bb, 2 leeg) en J Beukes (5/34 in 13bb, 1 leeg) met die bal uitgeblink. Paarl-Oos II (262) het darem met ’n sege van 48 lopies van Worcester teruggekeer.
Randall George (64 4x9), Garth Lewis (62 4x11 en 2/24 na 8bb), Roderick Allies (40 4x2, 6x5) en Kurt Julies (39 4x5 en 6/36 na 14bb) was die uitblinkers vir die besoekers.
S Afrikaner (3/40), K Daniels (112nu 4x18), S Loff (31 4x5) en E Kibie (31 4x2, 6x3) was die tuisspan se beste spelers. Saterdag speel Paarl-Oos I (tuis), II (weg) en III (tuis) teen Oostelikes. Boland Krieket se Pro20-kompetisie begin ook die naweek. Die manne van Paarl-Oos speel hul eerste wedstryd Sondag om 13:00 weg teen Worcester United.
More
News
|