Tuinwerkers in moordsaak
2006-11-09
DIE twee tuinwerkers wat daarvan aangekla is dat hulle ’n boervrou van Wellington in Maart verlede jaar vermoor het, verskyn hierdie week in die Kaapse Hooggeregshof.
Vier kwaai rifrughonde kon die Dinsdagoggend nie verhoed dat hul geliefde baas, Wanda Neethling, by haar woning oorval word nie. Wanda (48), van die kleinhoewe Lowanee aan Lady Lochweg, is aangeval toe sy kort voor 07:00 haar bakkie in die motorhuis getrek het.
Tuinwerkers het onraad vermoed en die polisie ontbied.
Wanda is met ’n breë mes in die hart gesteek, moet ’n roeispaan geslaan en uit die motorhuis tot in die kombuis gesleep, waar sy gesterf het.
Spore van die verdagtes het die polisie gelei tot ’n woning in die New Rest woongebied, waar Lulu Baba (22) en Wandesile Sitoto (20) twee uur later in hegtenis geneem is.
Die jong mans, met bytplekke aan hul lywe, bebloede klere en skoene, is dieselfde middag van moord aangekla.
Daar is vasgestel dat borgtog van R350 kort voor die moord aan Baba verleen is, toe hy op ’n aanklag van poging tot moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen in die hof verskyn het.
Hy en Sitito het voorheen vir Wanda tuinwerk gedoen.
Wanda, ’n Bolandliga-muurbalspeler, het twee jaar voor die aanval met ’n inheemse boomkwekery op die kleinhoewe begin en landskapontwerp gedoen.
Sy en haar man, Louis, is ’n jaar voor die aanval geskei. Hul twee kinders het in Spanje gewerk.
Dinsdag het die staatsadvokate by die Hooggeregshof ’n voorgestelde pleitooreenkoms, dat die vermeende moordenaars skuld erken en 12 jaar gevangenisstraf opgelê word, van die hand gewys.
Die moord op Wanda het destyds Wellingtonners diep geskok, slegs vyf weke ná die moord van Lisbé Smuts in haar woning op die dorp.
Ook háár vermeende moordenaar is skaars ’n uur na die aanval in hegtenis geneem.
Hy verskyn ook hierdie week in die Kaapse Hooggeregshof (sien bl 4).
* The trial of two men accused of killing their former employer, landscape architect Wanda Neethling in Wellington, started in the Cape High Court this week.
More
News
|