Polisieman na drie jaar verhoor
2006-11-09
DRIE jaar nadat die minnaar van sy gewese vrou doodgeskiet is, sou die moordverhoor van ’n polisie-offisier van Wellington hierdie week in die Hooggeregshof in Kaapstad begin het.
Johan Lawrence (39) word daarvan aangekla dat hy op 8 November 2003 voor die oë van sy gewese vrou in haar woning te Meakerstraat, New Orleans, haar minnaar met pistoolvuur afgemaai het.
Lawrence is in die woning in hegtenis geneem vir die moord van Henry Andrews (40), ’n bewaarder van die Hawequa Jeugsentrum op Wellington.
Nkosi Booi van die polisie se Onafhanklike Ondersoekdirektoraat in Kaapstad het die skietdood ondersoek.
Andrews het die noodlottige Saterdag gekuier by polisie-inspekteur Debbie Lawrence. Die twee het glo hul toekoms saam beplan.
Hulle was eers onbewus van die man wat by ’n sydeur ingebreek het. Toe die eerste skoot klap, het Debbie geskree dat Andrews moes vlug.
Toe het sy haar twee jong dogters gegryp en by die huis van oud-burgemeester Chris Leander oorkant die straat, hulp ontbied.
Die tweede skoot het Andrews in die maag getref. Hy het uit die huis gevlug, maar is teruggesleep.
’n Derde skoot het hom weer in die maag getref. Hy het probeer wegkom, maar is op die sypaadjie tromp-op in die nek geskiet.
Die verdagte is ná die moord twee maande lank uit vrees vir sy lewe in die selle van die Franschhoek polisiekantoor aangehou. Daar is hy gereeld deur kollegas, familie en sy gewese vrou besoek.
Daarna was Lawrence in alleen-aanhouding in die Goodwood gevangenis.
Met elke hofverskyning van die skofbevelvoerder van die area-misdaadbekampingseenheid in die Paarl, was die hofsaal stampvol kollegas, vriende en familielede van hom, asook dié van Andrews.
Lawrence het aan die hof verduidelik dat hy en Debbie in Maart 2003 ná huweliksprobleme geskei is, maar dat hulle steeds onder dieselfde dak gebly het.
Die afgelope drie jaar was daar duidelik ’n verhouding tussen haar en die oorledene, het hy getuig.
In 2002 is Lawrence skuldig bevind op aanklagte van die rig van ’n vuurwapen toe hy sy vrou gekonfronteer het oor die verhouding.
“Debbie was wisselvallig,” het hy aan die hof gesê. “Dan moet ek in die kamer slaap, dan skop sy my uit. Dan wil sy skei, dan wil sy nie.”
Nadat hulle geskei is, het hy in hul nuutgeboude woning in Uitsig, Wellington, aangebly. In Augustus daardie jaar is daar ’n tydelike interdik teen Lawrence toegestaan wat kontak verbied het.
Nieteenstaande die interdik het die twee die volgende maande steeds saam op uitstappies gegaan, inkopies saam gedoen en ’n naweek saam gaan kamp.
“Ons het weer van trou begin praat,” het Lawrence aan die hof gesê. Op die dag van die moord wou hy eintlik selfmoord pleeg. “Ek wou myself voor haar skiet,” het hy in kruisverhoor gesê.
Borg is in Maart 2004 ná ’n appèl teen die oorspronklike weiering toegestaan op voorwaarde dat Lawrence hom nie met getuies inmeng nie.
Maandag het Andrews se familie by die Hooggeregshof opgedaag, onbewus daarvan dat die regter nie beskikbaar sou wees nie. Die saak is tot 27 November uitgestel.
* A policeman from Wellington is to appear in court three years after allegedly shooting his former wife’s lover.
More
News
|