Rower skuil in hoenderhok
2006-11-09
TERWYL ’n groot grond- en lugsoektog verlede Dinsdag na vier gewapende rowers aan die gang was, het een van die voortvlugtiges die hele tyd onder ’n seil ongeveer vyftig meter van die misdaadtoneel geskuil.
Vier mans het die kantoor op die pluimveeplaas Nantes, noord van die Paarl, binnegestorm en personeellede vasgebind.
Hulle het op die kluissleutels aangedring, en toe hulle nie hul sin kry nie, het hulle na buite gegaan en twee bestuurders aangeval.
Die algemene bestuurder, Sampie van Vuuren, het verwoed terugbaklei en daarin geslaag om homself te bevry, maar is met ’n panga op die voorkop gekap en verskeie kere geskop en geslaan.
Hy en Andries van Vuuren het die vier mans verjaag, wat met slegs Sampie se beursie en personeellede se selfone deur die wingerde ontsnap het.
Dit is die tweede keer binne ’n jaar dat Sampie op die plaas aangeval is.
’n Intensiewe soektog deur die Paarl en Wellington polisie, met behulp van ’n polisiehelikopter, het daartoe gelei dat twee verdagtes op die Lady Loch-pad naby Wellington aangekeer is.
Terwyl ’n verdere soektog geloods is, het ’n derde voortvlugtige die hele tyd onder ’n seil geskuil langs een van die hoenderhokke op die plaas.
Later die middag, toe die situasie op die plaas tot bedaring gekom het, het ’n trekkerdrywer toevallig ’n kop agter die seil sien uitsteek terwyl hy op sy trekker gery het.
Hy het ander personeellede in kennis gestel en die polisie is weer ontbied voordat die man aangekeer is.
Die vuurwapen wat in die aanval gebruik is, sowel as Sampie se beursie en ’n selfoon, is in die verdagte se skuilplek gevind.
Volgens Sampie het die verdagte, Boy Ndlovu (46) van Mbekweni, voorheen op die plaas gewerk as ’n tydelike werker.
“Hy moes geweet het dat die honde nie maklik om die hoenderhokke sou snuffel nie, want daar is ’n sterk reuk van ammoniak en mis wat sy reuk sou kamoefleer,” het Sampie gesê.
“Hy het so ’n jaar en ’n half gelede ophou werk vir my en ek is toevallig kort daarna vir die eerste keer aangeval.
“Die rewolwer wat in die nuutste rooftog in my gesig gedruk is, het baie gelyk soos die wapen wat in die eerste voorval gebruik is.
“Die rooftog was vooruit beplan, want ons sou daardie dag lone betaal het, terwyl ons gewoonlik op Vrydae loneuit betaal.”
Phembinkosi Mobula (38) en Sonwabile Mgwepu (44) verskyn vandag saam met Ndlovu in die Paarl Landdroshof op aanklag van gewapende roof en aanranding.
Die polisie is steeds op soek na ’n vierde verdagte.
* While a police search was underway for four armed robbers after a robbery on a poultry farm in northern Paarl, one of the suspects was hiding next to a chicken coop only fifty metres away from the crime scene.
More
News
|