Klappers laat Boel bloei
2006-11-09
TERWYL gretige vuurwerk-entoesiaste gedink het dat dit groot pret was om vanjaar onwettig vuurwerke af te skiet tydens die Guy Fawkes-naweek, het talle weerlose diere weereens gely weens hul vrees vir die klappers.
Nie net was die DBV in Wellington en die Paarl oorstroom deur wegloophonde nie, maar verskeie honde het hulself beseer toe hulle van die klapgeluide van die vuurwerke probeer ontsnap het.
Een so ’n geval was die sagte reus van ’n boerboel, Boel, wat ernstige kopbeserings opgedoen het toe hy deur ’n ruit probeer spring het.
Boel se ontstelde eienaars, Abie en Ans Goosen van Hoofstraat 372, Paarl, is steeds woedend hieroor.
“Nie net is Boel soos ’n kind in ons huis nie, maar hy is ook ons beskermheer,” vertel ’n omgekrapte Abie.
“Ons was Sondagaand uit van 19:00 tot 21:00. Die eerste ding wat ek agtergekom het toe ons teruggekeer het, was dat ons nie oudergewoonte vir Boel in ons agterplaas hoor blaf het nie.
“Ek het dadelik deur die huis gestap na die agterplaas waar Boel in ’n hopie in ’n hoek gelê het. Ek het dadelik geweet dat daar groot fout moet wees. Dit was eers toe ons ’n lig aanskakel dat ons orals bloed gesien het.
“Ons het later besef dat Boel deur ons slaapkamervenster probeer spring het, en die hele ruit het op sy kop in flarde gespat. Die glasskerwe het sy oë net-net gemis.
“Behalwe verskeie sny-wonde wat Boel op sy voorkop opgedoen het, het ’n groot stuk glas nog in sy voorkop bly sit,” vertel Abie.
Ans vertel dat hulle tot laat Sondagnag gehoor het hoe daar klappers geskiet word naby hul huis.
“Ek het die polisie hieroor geskakel en ’n offisier het eenvoudig aan my gesê dat hulle dit nie hoor nie.”
Boel is die volgende oggend veearts toe geneem vir behandeling en na talle steke en ’n rekening van byna R800 is hy weer veilig tuis.
“Maar Boel ly steeds erg aan skok en hy eet baie min,” sê Ans se dogter, Suzette Geldenhuys.
“Ek dink dis heeltemal onaanvaarbaar dat dit toegelaat word dat die klappers afgeskiet word.”
Volgens munisipale regulasies is die afskiet van vuurwerke onwettig tensy ’n permit verkry word en ’n boete van R1000 kan opgelê word.
Nogtans het die Paarlvallei Sondagaand behoorlik weerklank van die vuurwerke. Ook oud-Burgemeester Herman Bailey het teëspoed gehad oor die naweek, toe die gesin se spierwit Staffordshire terriër verdwyn het.
Sondagoggend toe die Bailey-gesin kerk toe is, het hul hond, Taxes, vanuit hul agterplaas in Wellington ontsnap en is steeds weg.
’n Plaaslike veeaarts, dr Hanneke Kruger, het gesê dat sy self baie bekommerd oor haar eie honde was met die geraas.
“Wat help dit om wette te hê as dit nie uitgevoer word nie. Ek het nog nooit gehoor van iemand wat in Drakenstein beboet is vir vuurwerke nie.”
“Gelukkig kry ons baie mense wat kalmeermiddels vir hul diere aanskaf wat vir hulle tydens dié tye laat bedaar.”
Linda Groenewald van die Paarl DBV het gesê dat hulle vanjaar weereens baie wegloophonde gevind het, maar gelukkig is hulle almal veilig aan hul eienaars terug besorg.
“Wat vir my egter kwel, is dat die feestyd om die draai lê en dan skiet die mense klappers vir die vale.
“Totdat die wetgewing oor vuurwerke behoorlik toepas word, sal talle diere nog hieronder ly.”
* A dog suffered severe cuts after breaking a window to escape from the noise of fire crackers.
More
News
|