Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Tiener verongeluk

Tiener verongeluk
 
2006-11-09


’n KRANIGE jong sportman se loopbaan is die afgelope naweek kortgeknip toe hy tragies gesterf het in ’n ongeluk in Van der Stelstraat, Paarl-Oos.

Chad Alexander (13) en ’n groep vriende het Vrydagaand ’n braai bygewoon by ’n huis in Klein Drakensteinweg.

Toe hulle later die aand nie ’n geleentheid na hul onderskeie huise kon kry nie, het een van hulle vir ’n vriend, Everest Ladouce (30), geskakel en gevra of hy vir hulle sou kon help.

’n Halfuur later het Ladouce by die huis aangekom en agt jongmense het agter in sy Toyota Venture geklim.

Enkele minute later het Ladouce by ’n verkeerslig op die kruising van Van der Stel- en Meakerstraat by Orleanspark beheer oor die voertuig verloor. Die motor het gerol en Chad is op slag dood.

Ladouce en sy vriendin Clothiel Adams (20) het van die ongelukstoneel gevlug.

Bianca Raubenheimer (15) is met ernstige gesigsbeserings na die Tygerberg hospitaal geneem, terwyl Allison Leukes (14), Jade en Wade Adams (15) en Dane Frolicks (16) met ligte beserings by die Paarl hospitaal behandel is voordat hulle ontslaan is.

Chad was in graad sewe by William Lloyd Primêr waar hy uitgeblink het in tafeltennis, skaak, krieket, sokker en swem. Sy geskokte ouers, Mervin en Jereline, vertel dat dit steeds voel asof hulle ’n nagmerrie beleef waaruit hulle skielik sal wakker skrik.

“Chad was ’n ongelooflike kind wat baie gewild onder al sy vriende was.

“Sedert die ongeluk was ons huis dag en nag vol mense, en toe ons Maandag by ons voordeur uitkyk op die sportveld waar Chad en sy vriende altyd sokker gespeel het, sien ons ’n groot bord wat sy vriende opgesit het met die woorde, “To: Chad, Our Friend,” daarop geverf.

“Ons harte wou toe breek oor dié pragtige gebaar vir Chad.”

William Alkaster, junior bestuurder van die Paarl sokkerklub waar Chad ’n lid was, het gesê dat dit met groot skok is dat hulle die tragiese nuus ontvang het.

“Chad was ’n optimistiese, talentvolle rolmodel vir sy mede-spelers. Hy was baie lief vir sport en ’n blink toekoms het vir hom gewag.

“Hy was ook een van die uitblinkers in die junior afdeling van die burgemeestersbekertoernooi.”

Ladouce het hom Saterdagaand oorgegee by die Paarl-Oos polisiestasie. ’n Klag van strafbare manslag word ondersoek.
Chad word oorleef deur sy ouers en twee broers, Jarrier (22) en Marvin (17).

’n Roudiens het gisteroggend op die ongelukstoneel plaasgevind, sowel as by William Lloyd Laer.

Chad se begrafnis vind Saterdagoggend om 09:00 vanuit die huis te Grebestraat 44 en daarna om 10:00 by die Bethel Congregational Kerk plaas.

* A talented teenager has died in a crash.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za