Ons word gevaarlik in die steek gelaat
2006-11-09
MY dogter het Vrydag 27 Oktober om 12:45 by ons huis in Oos-Boschstraat aangekom. Sy het opgelet dat die huis deurmekaar was, en het dadelik uitgestap en die Paarl polisienommer (807-4000) op haar selfoon geskakel.
Sy sien toe vier mans uit die huis uitkom. Hulle het tot by haar by die hek gestap en haar gevra of daar ’n probleem is.
Toe sy hulle met die polisie dreig, het hulle weggestap in die rigting van die brug oor die Bergrivier.
Teen 13:10 was ek en my seun by ons huis. Ek het die vier agterna gesit, soos hulle gestap het in die rigting van Mbekweni. Een was in sy dertigs en die ander in hul twintigs.
Die inbrekers het hulle skoene in die huis gelos en ons nuwe skoene aangetrek. Hulle is weg met leerbaadjies, juweliersware en ’n DVD-speler. Nog items is neergesit, reg om weggedra te word.
Een van die mans het ’n lap om die hand gedraai gehad. Ek was tot ’n tree van hullle af, maar ek was te bang om hulle te probeer aanvat.
Die polisie het eers om 13:30 by die huis aangekom. Toe ry twee polisievoertuie om die verdagtes te soek.
Hulle het verby die mans gery sonder om te stop en hulle te ondervra. Ek het gesê hulle moet omdraai en weer gaan kyk.
“Ek het nie gesien daar’s iets in sy hande nie,” het die polisieman geantwoord.
Die polisie was slap. Ek is baie teleurgesteld.
Toe ek die vier weer gaan soek, het die mans in die sloot langs die pad verdwyn.
Later het ons navraag gedoen hoekom die polisie so laat was.
Die antwoord wat ons gekry het, was: “Die swart vrou by die polisiestasie het die verkeerde kode ingesit. Toe kom ons op ons tyd.”
Ek is baie ontevrede met die regering. Ons lewens is in die hande van mense wat ons nie verstaan as ons op die telefoon praat nie. Dis hoekom die polisie 45 minute ná die noodoproep eers gekom het.
My dogter moes lank verduidelik, want die vrou op die polisietelefoon het niks verstaan nie. My dogter kon doodgewees het - dan was dit deur die regering.
Baie bekommerd
Paarl polisiestasie kommissaris, Supt Mzwandile Tiyo, betreur die voorval en sal die aangeleentheid graag met die klaer bespreek. Die polisie ondersoek ’n interne klag van nalatigheid in verband met die voorval.
More
News
|