Gras nou groener by Boland Stadion
2006-11-09
OPGRADERINGS aan die speeloppervlakte van Boland Stadion is in volle gang.
Lojale Boland-ondersteuners sou vandeesweek ietwat nostalgies gesluk het aan ’n knop in die keel, as hulle dié speelveld in Wellington aanskou het.
Van die tradisionele lowergroen tapyt van ’n veld is daar geen teken meer nie. In sy plek lyk dit soos die bouterrein van ’n nuwe parkeergebied.
Dit is alles egter net tydelik. Nuwe sooie sal eersdaags weer gelê word, nadat die grondoppervlakte gelyk gestoot is.
Die ietwat konvekse buiging in die oppervlakte van die veld het dit nie geskik gemaak vir die sokkerwedstryde wat vanaf volgende jaar daar gespeel gaan word nie.
Fidentia, hoofborg van die Boland Kavaliers, besit ook die Fidentia Rangers sokkerspan wat tans in die nasionale Mvela Goue Liga deelneem.
Fidentia wil hê dié span moet ook op Wellington gebaseer wees en daarom die verandering aan Boland Stadion.
Die sooie wat van die veld verwyder is, sal op die aangrensende Boland B-veld gelê word. Dié veld, wat die tuisveld van Wellington Rugbyklub is, sal ook vyf meter weg van die klubhuis geskuif word om so die probleme met modder op die skadukant van die veld op te los.
Dié veld beskik op die stadium ook nie voldoende dreinering nie, ’n saak wat ook aandag sal geniet.
Boland Stadion se grasoppervlakte moet voor einde Januarie herstel wees, wanneer die Boland en die Stormers in ’n oefenwedstryd teen mekaar te staan kom.
* Uitsluitsel oor verdere veranderinge aan die stadion om as moontlike oefenbasis vir ’n oorsese span te dien tydens die 2010 Wêreld Beker Sokkertoernooi, sal eers einde 2007 verkry word.
Volgens die uitvoerende hoof van Boland Rugby, Piet Bergh, sal die Drakenstein Munisipaliteit en Fifa eers later die besluit neem.
Sou Boland Stadion die kopknik kry, beteken dit dat die veld se aksis sal moet verskuif om op noord-suid te lê. Dit sal uiteraard die hele infrastruktuur van die stadion in gedrang bring.
* The surface of Boland rugby stadium is to be reshaped to allow for soccer games.
More
News
|