Lopies kom vir Boland
2006-11-09
’n OORTUIGENDE vertoning met die kolf het verlede naweek die Boland Krieketspan van ’n sege verseker in sy eerste wedstryd van die seisoen.
Die Boland het in die driedagreeks die span van Kei met 227 lopies geklop in hul wedstryd op Stellenbosch.
Die Boland het ’n massiewe 342/6 aangeteken voordat hulle ná 85 boulbeurte verklaar het.
’n Vennootskap van 139 lopies om die tweede paaljtie deur Warren Hayward (87 4x15) en Gerhard Strydom (66 4x10) het ’n goeie basis vir die tuisspan gelê.
Die kaptein, Warren Swan (76 4x9) en Brendon Adams (61 4x6) het die momentum behou met hul vennootskap van 135 wat 14 grenshoue en ’n ses ingesluit het.
Die Boland net ná teetyd op die eerste dag verklaar.
Die Kei het in sy eerste beurt 272 aangeteken voordat sy laaste paaltjie op die tweede dag ook rondom teetyd geval het.
Die Boland se tweede kolfbeurt het ewe goed verloop en is gekenmerk deur die eerste honderdtal van die seisoen.
Terwyl Henry Davids se 108 wat 18 grenshoue ingesluit het, beslis die hoogtepunt van die dag was, het Strydom (53 4x7), Swan (50nun 4x3, 6x1) en Adams (28) ook help bou aan die totaal van 280/4. Die Boland het in sy tweede beurt met die eerste drankie-pouse om 11:00 op die derde dag van spel verklaar.
Weer het vennootskappe van 117 (Davids en Strydom), 68 (Davids en Hayward) en 71 (Swan en Adams) die kolfmomentum aan die gang gehou.
Die tuisspan se tydsberekening was in die kol en hulle boul die Kei-spelers uit vir 123 lopies kort voor teetyd op die laaste dag.
Die Boland-boulers wat die paaltjies laat kantel het, is Zahir Abrahim (3/24 in 15bb, 5 leeg), Bardo Fransman (3/30 in 13bb, 7 leeg en 2/27 in 7bb, 2 leeg), Davids (2/42 in 8,2bb, 1 leeg), September (1/65 in 16bb, 3 leeg en 4/30 in 10bb, 1 leeg), Jacques van Wyk (2/22 in 7bb, 2 leeg) en Adams (1/4 in 0,3bb).
Die Boland was ook bobaas in die volgende dag se eendagwedstryd en het met 99 lopies geseëvier.
Die tuisspan kry 234/6 in sy 45 boulbeurte.
Davids (83 van 110 balle, 4x12) was weer die voorste lopiemaker, terwyl Lee-Roy Walters (46nun van 38 ball, 4x5), Abrahim (43nun van 21 balle, 4x1, 6x4) en Swan (25 van 43 balle, 4x3) ook goeie bydraes gelewer het.
Die Kei word uitgeboender vir 135 lopies, met Jacques van Wyk (2/17 in 5bb), Fransman (2/1 in 6bb, 5 leeg), September (3/29 in 9bb, 2 leeg), Stiaan van Zyl (2/19 in 7,1bb, 2 leeg) en Abrahams (1/11 in 6bb, 1 leeg) wat paaltjies neem.
Hoewel dit seer sekerlik nie die sterkste kompetisie is wat die Boland dié seisoen sal raakloop nie, is afrigter Salieg Nackerdien baie tevrede met die vertoning.
“Die opposisie was nie so sterk as wat ons verwag het nie, maar dit was ’n goeie begin vir ons.
“Die kolwers het genoegsame tyd in die middel spandeer en goeie vennootskappe aanmekaargesit, wat een van ons hoofdoele vir die seisoen is.
“Die spelers het die wedstryd baie ernstig benader en daarvan getuig die groot tellings en die konsentrasievlakke van beide die kolwers en die boulers."
Boland speel sy volgende wedstryd op 16 November teen Natal weer op Coetzenburg.
Die kolfblad van Boland Park is vroeër vanjaar opgekap en verbeter.
Die Boland Amateurspan sal sy derde wedstryd van die seisoen teen die SWD op 24 Januarie weer in die Paarl speel.
’n Oefenwedstryd tussen die Boland o.17 en Boland Coca-Cola span sal in Desember op Boland Park gespeel word om te sien hoe die blad reageer.
More
News
|