Haar moed oorskry alle grense
2006-11-16
OM ’n vrywilliger te wees, eis dikwels emosionele krag én fisiese inspanning waarvoor nie baie mense kans sien nie.
Maar ’n kankerpasiënt wat kans sien om ook nog ander mense by te staan, gaan ’n mens se vestand te bowe.
Só ’n mens is Sharon Gertse van Vanwyksvlei.
“Die Here het my soveel kanse gegee, dat ek nou ander wil help,” vertel dié dapper vrou.
Ons sit in haar voorkamer en dit is moeilik om te glo dat dié vriendelike, opgeruimde vrou eintlik ernstig siek is.
Haar stryd het in 1990 begin, toe sy ’n histerektomie ondergaan het. “Vir sewe jaar daarna het ek met tye rugpyn gehad, maar die dokters het gesê dit is maar van die operasie.”
Ná sewe jaar, in 1997, het die pyn só toegeneem dat haar huisdokter haar na 'nspesialis verwys het. Dié het vermoed dat die probleem elders lê, en Sharon is in die Paarl Hospitaal opgeneem.
’n Sonar het getoon dat daar iets verkeerd is, maar nog toetse was nodig.
Van Paarl Medi-Clinic is sy Panorama toe gestuur en uiteindelik Durbanville toe, waar sy die slegte nuus ontvang het.
Daar was ’n gewas van 3 cm wat die senuweesak om die derde rugwerwel plat druk.
“Die dokter het gesê dat dit noodsaaklik is om te opereer, maar hy kon nie waarborg dat hy iets kon doen nie. Hulle sal moet bestraal.”
Die operasie het nie goed afgeloop nie. Die gewas was reeds gedeeltelik losgesny, toe bloeding gemaak het dat die operasie gestaak is.
“Dit was ’n moeilike tyd vir my,” vertel Sharon. “Die dokter het verduidelik dat hulle nie weer sal kan opereer nie. Die gewas is te ver gevorderd.”
Sharon het in dié tyd ses weke plat gelê en moes van vooraf leer loop.
“Daar het soveel dinge deur my gedagtes gegaan. Ek was depressief en wou net huis toe kom.”
Maar in plaas van huis toe, is sy oorgeplaas Panorama toe, vir bestraling.
“Hulle het vir my verduidelik wat hulle gaan doen en wat dit behels. Vir sewe weke lank het ek Maandae tot Vrydae bestraling gekry.
“Dit was moeilik en uitputtend. Ek was naar en vol pyn. "Maar hulle het my goed behandel.”
Dit is in dié tyd dat Sharon met Kansa se vrywilligerdiens te doen gekry het. Mynie Lesch, predikantsvrou van Wellington en vrywilliger, was een van dié mense.
“Daar was ook ander pastorale werkers en ’n gebedskring wat my deur dié dae gedra het.”
Toe sy uiteindelik huis toe is, was die swaarskry nie verby nie.
“Dit was verskriklik moeilik, veral vir die kinders,” vertel sy.
“My man, Niklaas, móés werk en ons het het besluit dit is beter as ons dogter, Elizma, wat toe in standerd vyf was, maar tydelik by my ma gaan bly.
“My oudste seun, Francois, was besig met sy Diensjaar vir Christus en planne om by Hugenote Kollege te gaan studeer vir jeugwerker. Ons ander seun, Jonathan, het ook reeds gewerk.
“Ek was verskriklik swak en siek, maar die kerkmense was baie goed vir my. Hulle het kom huis skoonmaak, wasgoed gewas en my bed opgemaak.”
Met die gemeente en Kansa se ondersteuning het dit stadig maar seker beter gegaan, Kansa het ’n rolstoel en wat nog voorsien.
“Mense het aangebied om my hospitaal toe te neem, my medikasie gaan haal. En dan was daar Jeanette Buxman wat my voete kom versorg het,” onthou sy.
Maar ’n verdere terugslag tref hulle. Niklaas verloor sy werk omdat hy haar so dikwels moes versorg.
“Dit was verskriklik. Ek lê siek, hy moet werk soek... Weer eens het Kansa ingegryp en betaal vir medikasie solank as wat dit nodig is.
Sharon het nog ses operasies gehad vir vergroeiings in haar buik, tot die dokters op 22 Mei 2003 vir haar gesê het hulle kan niks verder doen nie.
“My hele senustelsel is aangetas,” vertel sy. Sy bly ’n oomblik stil en gaan dan voort: “Maar dit gaan baie goed met my, ek het alles vir die Here gegee.
“As ek dink oor hoe Hy my van 1997 af deurgedra het, dan weet ek Hy is goed en in beheer. Hy gee my ook die krag om nou ander mense te help.”
Maklik was dit nie. Sharon moes sielkundige berading kry vir haar depressie. “Ek het my heeltemak onttrek. Ek moes eers die ding met myself uitklaar.
“Maar ek het van die begin af besluit om betrokke te raak by Kansa. Nou wil ek in die gemeenskap uitreik.”
Sharon het nou ’n kursus in vrywillige werk by Kansa voltooi en sê sy het verskriklik baie geleer.
“Ons is geleer om pasiënte emosioneel te ondersteun. Dit het my weer my eie trauma laat beleef, maar ek weet ook dat ek uit my eie ondervinding kan put om ander te help.”
Mense wat meer wil weet van Kansa se vrywilligerdiens, kan Mareé Lambrechts skakel by 876-3589.
More
News
|