Hy droom groot
2006-11-16
DIVAN SIEBRITS (28) van Amstelhof is ’n jong man wie se voete jeuk: letterlik en figuurlik. Dans en drama is sy lewe en nou mik sy kop ook Amerika toe.
Divan het op 14 begin dans. “Ek en Anton Janjala het hier in 1997/98 begin. Anton het my baie geleer.”
Drama-onderwyser Lloyd Davids van Worcester het ook ’n groot invloed op sy lewe gehad.
Divan het in 2002 die hoofrol gedans in die stuk ‘Hoe die Hollanders die Kaap oorgeneem het’ van Basil Kevido, ook van Worcester.
Vir ses maande lank het Divan ook ’n dansskool vir laerskoolleerders aangebied.
“Maar my hart het teruggestaan Paarl toe, want hier wil ek belę.” In dieselfde jaar verwerf hy goud vir solo-dans by die Paarlvallei Eisteddfod.
Hy het ook deelgeneem aan Ernest Loth se opvoering van die dansdrama Raka wat in die Ou Meulteater in die Paarl opgevoer is, en ook by Diemersfontein.
En nou is dit Amerika toe! As alles volgens plan verloop, vertrek Divan volgende maand Cincinnatti toe, waar hy mense ken.
“Ek wil net eers my voete vind. Mense, en ander kunstenaars leer ken, kyk na agente, klubs.”
Junie volgende jaar wil hy skuif Los Angeles toe vir sy groot kans. Oor een ding is hy seker: “Hulle sal my raaksien.”
Hy het homself ’n jaar gegee om ’n merk te maak.
Maar alles is nie net drome nie. Hy beplan ook om deeltyds te werk, sodat hy sy verpligtinge teenoor sy ma-hulle kan nakom.
Hy het ook vanjaar ’n kursus in besigheidsbestuur by Paarl Kollege voltooi, wat hom goed te staan behoort te kom.
More
News
|