Radio op Franschhoek beoog
2006-11-16
DIE moontlikheid dat ’n nuwe gemeenskapsradiostasie in Franschhoek kan open, is dalk binnekort ’n werklikheid.
’n Aansoek vir ’n tydelike lisensie vir ’n gemeenskapsradiostasie is reeds by ICASA (Independent Communications Authority of South Africa) ingedien, wat later vandeesmaand lisensies gaan uitreik.
Die seinverspreidingsliggaam Sentech het reeds goedkeuring verleen vir ’n kanaal om die Franschhoekvallei te bedien.
Die moontlikheid om ook Pniel te bedien word ondersoek.
Die voorsitter van NEMISA (National Electronic Media Institute of South Africa), Grizelle Sampson, en die hoof uitvoerende beampte, Peter de Klerk, het onlangs ’n besoek gebring aan die Tegnologie Opleidingsentrum in Groendal, waar die stasie hopelik gehuisves sal word.
Hulle was hoogs in hul skik met die potensiaal van die Sentrum en beplan om ’n gunstige verslag aan die Minister van Kommunikasie, dr Ivy Casaburi, voor te lê.
Indien alles vlot verloop met die ondertekening van dokumentasie en oordrag van die eiendom en toerusting van die Franschhoek Belgiese Ontwikkelingstrust aan NEMISA, kan die IT-sentrum nog betyds heropen vir die nuwe 2007 akademiese jaar.
Franschhoek FM adverteer reeds vir musiekaanbieders, joernaliste en produksiebestuurders om voltyds en deeltyds diens te doen.
Belangstellendes vir oudisies kan Loretta Isaacs in Groendal skakel by 072-641-7025.
More
News
|