Oudsoldate registreer kosteloos by weermag
2006-11-16
GEEN oudsoldaat hoef geld te betaal om geregistreer te word by die SA Weermag nie.
Die afgelope jare het daar gereeld groepe opgeduik wat beweer hulle is ’n amptelike mondstuk vir oudsoldate. Bedrae wat gewissel het van vrywillige donasies tot soveel as R130 is dan gevra vir registrasie.
Beloftes is ook gemaak oor uitbetalings aan oudlede, wat mense dan hul hande vinnig in die sak laat steek het.
“Nee,” sê lt-kol Arno Botes van die Wynberg Militêre Basis, “mense het nie nodig om ’n sent te betaal nie.”
Hy het aan Paarl Post gesê daar is net een erkende organisasie vir oudsoldate, en dit is die Militêre Veterane Organisasie van Suid-Afrika.
Dié is egter in Pretoria gevestig en daarom doen die Wynberg Militêre Basis die registrasie hier plaaslik.
Lt-kol Botes bevestig dat die Weermag alle oudsoldate, van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog tot vandag, wil registreer.
“Ons kyk na moontlike opleiding en werkverskaffing, waar mense werkloos is,” het hy gesê.
Bewerings oor uitbetalings aan oudsoldate, is op hierdie stadium egter heeltemal ongegrond.
Lt-kol Botes sê hulle is bereid om tot in die Paarl te kom om vorms aan mense te verskaf en sal dit ook weer kom haal - sonder enige koste.
Die eerste sodanige geleentheid word beplan vir Sondag van 10:00 tot 16:00 by Groenheuwel Primêr.
Mense is ook welkom om vorms by die basis te gaan afhaal of te vra dat dit aan hulle gefaks word. Navrae kan gerig word aan lt-kol Botes by 799-6602. Daar is geen spertyd op registrasie nie.
More
News
|