Huisprojek skop af
2006-11-16
DIE tyd van praat is verby - ons mense is siek van praat, ons wil nou huise sien.
Só het Arthob Petersen, uitvoerende raadslid van Drakenstein belas met behuising, verlede week op ’n vergadering vir die begunstigdes van fase 5 in Projek 59 (Groenheuwel) gesê.
Hy het aan die mense verduidelik dat hoewel dit die Munisipaliteit se direkte verantwoordelikheid is om die huise te lewer, doen hy dit as agent van die nasionale en provinsiale regering.
Drakenstein ontvang jaarliks sowat R15 miljoen rand, wat skaars genoeg is vir 500 huise. Gemeet teen ’n waglys van 24 000, is dit nie eers ’n druppel in die emmer nie.
Petersen het dan ook gesê dat hulle op die oomblik besig is om die waglys na te gaan en te kyk of geen een van die begunstigdes reeds ’n huis het nie.
Die nuwe projek (fase 5) bestaan uit 227 huise. Daar word eersdaags met die bouwerk begin en die projek behoort binne vier tot vyf maande afgehandel te wees. Daar sal dan voortgegaan word met fases 4, 6 en 7.
Petersen het die mense bedank vir hul geduld: “’n Huis is ’n tuiste, ’n plek om kinders op die bes moontlike manier op te voed tot ware en trotse burgers.”
Cupido Jacobs van die behuisingskantoor het daarna aan die begunstigdes verduidelik dat geen tydelike opslaanhuise aan ander verkoop mag word nie.
Mense sal eers die “hok” moet afbreek (die munisipaliteit sal die vervoerwerk doen) voordat hulle die sleutel van hul nuwe huis sal kry. ’n Waterdeposito van R280 is ook vooraf betaalbaar.
Die tender vir die bou van die huise is toegeken aan Marnoll Builders en William de Villiers van dié maatskappy.
Hy het verduidelik dat die huise volgens die PHP (People’s Housing Process) gebou word. Dit beteken dat begunstigdes meer tyd insit, maar ook die voordeel trek van ’n groter huis.
Die basiese eenheid is ’n oopplanhuis van 36 m2, sonder enige bybetaling. Die maatskappy bied egter nog drie moontlikhede aan begunstigdes.
Die eerste hiervan is 36 vierkante meter met binnemure, teen ’n bybetaling van R3500.
Die volgende keuse is ’n huis van 42 vierkante meter teen ’n bykomende R9000 en laastens een van 50 vierkante meter, vir R18 000 ekstra.
De Villiers het verduidelik dat hulle nie te veel keuses kan toelaat nie, aangesien dit die bouproses sal vertraag. Planne vir bogenoemde opsies is reeds deur die nodige instansies goedgekeur.
* A new housing project has started.
More
News
|