Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Treinramp trap diep spore

Treinramp trap diep spore
 
2006-11-16


MET plaaswerkers wat Maandag opgewek agter die tralies op die vragmotor gesit het, het Gert Zeelie om 07:14 stadig oor die treinspoor tussen die plase by Faure gery.

Hy het nie geweet sy laaste oomblik is net enkele sekondes ver nie, nie tot die kake van die sneltrein uit Somerset-Wes in die vragmotor vasgeslaan het nie.

Toe die trein se toeter in hul ore blaas, het die gesels van vriende en familielede op die vragmotor opeens stil geword.

Drie van die jongste mans het voor die aanstormende trein afgespring. Binne sekondes was 19 van hul medewerkers dood en nog sewe ernstig beseer.

“Dis nie waar nie. Haar dogter kan nie dood wees nie. Voor ’n trein? En haar man, en al die ander. Dood?”

Lena Malan van Rusticana plaas by Klapmuts het Maandag verwese gesit, omring deur gesinslede en vriende.

Soos die hele gemeenskap van die dorp, was sy verslae ná die botsing tussen die trein en vragmotor waarop 29 kontrakwerkers uit Klapmuts en Dassenberg (Malmesbury) op pad was om in wingerde en groentelanderye in die Faure-gebied te werk.

Dit is die sesde ongeluk by dié oorgang die afgelope agt jaar.

Die drie-ton Mitsubishi Canter is in twee geskeur. Met die slag is die vragmotor meer as 100 meter meegesleur en het werkers soos lappoppe deur die lug getrek, het geskokte ooggetuies vertel.

Die bestuurder, Gert Zeelie (43), is op slag dood. Die seun van die vragmotoreienaar, Morné Kershoff (24), het ernstige beserings opgedoen.

Die verminkte liggame van elf mans en agt vroue het oor 500m gestrooi gelê weerskante van die spoor.

Die oorledenes uit Klapmuts is Bettie Wonderlik (32), Jan Karolis (48), George Booysen (45), Abraham Malan (45) en sy dogter Patricia de Wee (19), Wilfred Booi (25), Lorraine van Staden (44), haar niggie Suzane Steneveld (45), Francina Arendse (40), Patricia Mbe (49), Monica Lunco (18), George Davids (47) en Michayla Fortuin (16).

Twee van die oorlewendes, dié wat voor die botsing van die vragmotor afgespring het, is Denzil Cloete (18) en Mannetjies Demas (22) van Klapmuts.

“Ons het nog gelag en gesels, en toe is dit ’n stofwolk, en daar lê oral lyke,” het hulle onthou.

Ambulanspersoneel het uit die Skiereiland en Boland na die toneel gejaag en die beseerdes is met behulp van ’n helikopter na vyf hospitale gehaas.

Dinsdag het nog ’n jong vrou, wat ernstig beseer van die toneel geneem is, in die Groote Schuur Hospitaal gesterf. Sy is nog nie uitgeken nie, maar is volgens gemeenskapswerkers nie van Klapmuts nie.

Personeel van die welsynskantoor in die Paarl het geskokte mense wat van die ongeluk gehoor het, maar onseker was of hul geliefdes op die vragmotor was, in ’n saal op die dorp bygestaan.

’n Lys name van die oorledenes is teen die muur opgeplak. Elke nuwe aankomeling het beangs met ’n bewende vinger teen die lys name afgevryf.

Trane het gevloei met ’n doodstyding, en onsekerheid oor die onbekende name, was strak op gesigte te lees.

Gemeenskapswerker Thys Everts, raadslid JC Anthony en Garth Morkel, hoof van die welsynskantoor in die Paarl, het met maatskaplike werkers ondersteuning en berading aangebied.

Vervoer is gereël na die lykshuis by Tygerberg Hospitaal, waar die liggame uitgeken moes word, en na hospitale waar die beseerdes behandel word.

“Ek weet nie of my dogter dalk die onbekende vrou is wat in die lykshuis is nie,” het haar ma, Cynthia Fortuin, geprewel.

“Sy het skool gelos en ek weet sy sou vandag op die plaas gaan werk het. Ek weet nie wat ek in die lykshuis sal kry nie.”

Martin Kershoff van Klapmuts, eienaar van M&E Lanboukontrakteurs, moes self die aand haastig na die Vergelegen Medi-Kliniek gaan waar sy seun vir ernstige been-, arm- en ’n rugbesering geopereer is.

“Morné het vir Boys’ High se eerstespan gespeel en hy was al Paarl Rugby se kaptein,” het sy broer Etienne gesê. “Nou sal hy nooit weer rugby speel nie.”

Dit was wyle Gert Zeelie van Jordaanstraat in die Paarl, se eerste dag as vragmotorbestuurder by die landboukontrakteur.

Zeelie is ’n ervare vragmotorbestuurder met Kode10- lisensie en ’n passasiersvervoerpermit.

“Gert was so vol lewensvreugde, en so opgewonde met sy nuwe werk,” het sy swaer Jannie Bergh hierdie week hartseer gesê.

“Hy het nie betyds die trein gesien nie, en toe hy besef hoe naby die trein is, het die vragmotor op die spoor doodgeruk. Hy kon dit nie betyds aangeskakel kry nie.”

’n Gedenkdiens vir Zeelie vind môre om 10:00 plaas in die Paarlvallei NG Kerk.

Kershoff is erg ontsteld: “Van die werkers kom ’n lang pad saam met ons, tot tien jaar al. Dit is ’n geweldige skok vir my.”

Van die geraakte families het ’n man én dogter verloor, ander ’n ma, ’n tannie én ’n skoonsuster, nog ander ’n pa en seun.

“Ons weet nou nie verder nie,” het ’n vrou gehuil. “Ek wil dit nie glo nie.”

’n Massa-begrafnis in Klapmuts word vir Saterdag 25 November beplan. Die provinsiale regering het aangedui dat die koste van die begrafnisse gedek sal word.

Die welsynskantoor besoek elke dag nog huise wat broodwinners verloor het, met R500 kredietbewyse vir kospakkies.

Ná die ongeluk is die spoor sewe uur lank vir verkeer gesluit.
Metrorail en die polisie het onmiddellik met ’n ondersoek begin, ook na die bewerings van nalatigheid deur die bestuurder.

Dit is ’n onbemande plaas-oorgang met ’n stopteken, maar sonder waarskuwingsligte of ’n slagboom voor die oorgang.

’n Hulpfonds, Agri Wes-Kaap plaaswerkersfonds, is by Absa in die Paarl geopen, bankrekening 917 397 8050.

* Twenty farm workers, mostly from Klapmuts, and the driver of their truck, have died in a collision with a train.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za