Wedlope, sokker-aksie, die naweek in Paarl
2006-11-16
’n AFLOSWEDLOOP en pretdraf oor 8km vind Saterdag in die Paarl plaas.
Die wedlope wat deur die Paarl Atletiekklub aangebied word, heet “On Route to 2010” en vorm deel van die Drakenstein Munisipaliteit se program in sy voorbereiding vir die 2010 Węreldbeker Sokkertoernooi wat in Suid-Afrika plaasvind.
Die wedlope begin by die Daljosafatstadion en dien as voorprogram vir die eindstryd van die Drakenstein Burgemeestersbeker Sokkertoernooi wat ook Saterdag op Daljosafat Stadion gespeel sal word.
Die afloswedloop begin om 08:00, en die pretdraf 10 minute later.
Altwee spring weg by die stadion se hoofhek en eindig ook weer daar.
Die prysuitdeling vind om 09:45 binne die stadion plaas waarna die eerste sokkerwedstryd om 10:00 sal afskop.
Die 8km pretdraf maak voorsiening vir alle atlete - junior, senior en meestersatlete. Die wedloop is kort en enigiemand kan daaraan deelneem.
Die “On Route to 2010”-Padaflos word vir die eerste keer in baie jare in die Boland aangebied.
Die 8km padaflos bestaan uit 4x2km wedlope. Dié wedloop is veral geskik vir laer- en hoërskoolspanne wat tydens die eksamen van die eksamen-stres wil ontslae raak.
Verskeie besighede in die Drakenstein-gebied het ook reeds aangedui dat hulle die “On Route to 2010”-Padaflos as ’n geleentheid gaan gebruik om spangees onder hul personeel te help bou. ’n Wisseltrofee sal ook aan die eerste span van ’n besigheid oorhandig word.
Die wedlope beloof om pret te wees en daar is talle pryse op die spel. ’n Kermis sal ook by die eindpunt gehou word waar deelnemers en toeskouers verversings kan koop.
Atlete kan Saterdagoggend vanaf 06:00 tot 07:45 by die hoofhek van die stadion inskryf.
Vir meer inligting skakel, Richard Stander, hoof uitvoerende beampte van Boland Atletiek by 072-347-8964 of vir Gary Bernhardt by 082-925-4733
More
News
|