Straatkinderprojek vorder
2006-11-16
DIE Arendsnes straatkinderprojek op Wellington het onlangs verkope buite die sentrum gehou om fondse in te samel vir hul straatkinderprojek.
Dit het saamgeval met die inwyding van hul nuwe kombuis. Hierdie projek het in 2003 ontstaan toe 20 bekommerdes bymekaargekom en ‘n komitee gevorm het.
Na harde werk en donasies deur die kerke en die gemeenskap, was daar uiteindelik ‘n tuiste vir die straatkinders van Wellington. Hulle het nou ‘n plek om te slaap, maar kry nog bitter koud in die winter. Hulle het plek om te speel, maar dis kaal en onooglik.
Die komitee werk baie hard om toestande te verbeter en die plek uit te brei.
“Vir ons by die sentrum is dit belangrik om ons kinders se menswaardigheid en selfrespek te herstel,” het sekretaresse Elri Theron gesê.
“Ons probeer ‘n huis vir die kinders skep hier by die sentrum. Die sentrum se kombuis is opgegradeer en die leefarea met televisie word tans geverf en geteël.”
Die kinders se hele dag word in ‘n program saamgevat. Drie maaltye per dag word gegee en elke etenstyd dien ook as ‘n les in higiëne en opleiding in tafelmaniere.
Persoonlike higiëne word daagliks aangespreek: versorging van jou eie liggaam en ook versorging van klere en besittings.
Elke oggend is daar ‘n godsdiensles en Christenwaardes speel ‘n baie groot rol.
Elke dag vind daar opleiding plaas met syfervaardighede en leesvaardighede. Die biblioteek word besoek om die nodige vaslegging te doen.
Musiekwaardering vir alle vorme van musiek, van klassiek tot rap, word vasgelê.
Sport vorm ook deel van die program. Die kinders gaan eersdaags die gimnasium op ‘n gereelde basis besoek. “Met al die werksaamhede by die sentrum word die kinders van vroeg af blootgestel aan vaardighede soos verfwerk, teël, loodgieterswerk en ander ambagte.
“Dit is ook een van ons drome om kursusse in ambagte aan te bied en so vir ons kinders opleiding in ‘n spesifieke ambag te kan verskaf,” sê Theron.
Deel van die kinders se dagprogram is ook om die tuin en groentetuin te versorg en nat te lei.
Een keer per week het die kinders ‘n skilderklas.
Saterdae word ‘n groot entrepReneursdag gehou voor die sentrum en word daar probeer om fondse te in.
Vakansietye word gepoog om die kinders op kampe en uitstappies te neem. Kersdag self word ‘n baie spesiale Kersmaaltyd voorberei. Arendsnes het tans inwonende huisouers, ‘n kosmatrone en ‘n sentrumbestuurder.
“Ons wil aan al ons borge en vrywilligers baie dankie sê vir hul ondersteuning,” het Theron gesê.
“Kom kyk gerus hoe mooi dit lyk. Ons is baie afhanklik van julle om hierdie gemeenskapsprojek te laat werk.”
Kontak die sentrum by 873-0644, of vir Nicole Noordien de Klerk by 873-2645.
* Die organisasie se jaarvergadering word Dinsdag 5 Desember om 19:30 te Hoofstraat 83 op Wellington gehou.
More
News
|