Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jaar lê bene in die lug

Jaar lê bene in die lug
 
2006-11-23


MET die jaar 2006 op sy laaste (bene) en die aangename vooruitsig van ‘n lang Desembervakansie, behoort almal met vreugde hul laaste take vir die jaar te verrig. Is dit egter vir almal so?

Sommige skoliere skryf nog 'n vraestel of twee voordat hulle ten volle sal kan ontspan.

Nie almal is egter ewe toegewyd tot hul studies nie - en sommiges wag tot die elfde uur voordat hulle hulself inspan.

Maar word eksamen deur leerders as noodsaaklik beskou, of is dit net nog ‘n sadistiese manier waarop onderwysers op hulle probeer ‘wraak neem’?

Is daar skoliere wat eintlik eksamentyd geniet? Verder, watter dinge is skoliere eintlik mee besig wanneer hul aandag veronderstel is om by hul studies te wees?

“Wel, persoonlik hou ek nogal van eksamentye,” reken Hugo van Niekerk.

“Ek hoef elke dag net op een vak te konsentreer en boonop kom die skool nog vroeër uit.”

Toe hy gevra is of hy dink dat eksamens en toetse belangrik is, het hy geantwoord: “Hoe anders kan ons kennis van die leerwerk beproef word?

“Eksamens is baie belangrik, maar ek stem nie altyd saam met die manier wat onderwysers vraestelle opstel nie.”

Baie ouers van studente en veral skoliere sal erken dat hulle hul kinders gereeld moet dophou tydens studiesessies, maar is dit altyd die geval?

Hugo verduidelik: “Ek leer heeltemal uit my eie uit, maar my ouers is besorg en loer so af-en-toe in om te kyk hoe ek vorder.”

Michelle Minitzer sê dat sy besef dat eksamens belangrik is, maar voeg by dat dit nie vir haar is nie.

“Tydens eksamentye gaan my sosiale lewe geweldig agteruit en ek kan slegs somtyds op naweke uitgaan.”

Sy sê ook dat uitsien na die vakansie help nie veel nie, want sy bekommer haar te veel tydens eksamentye.

“Ek is ‘n perfeksionis, so ek stel vir myself baie hoë mikpunte."
Om te ontspan na 'n eksamen of na 'n studeersessie, hou sy daarvan om op Myspace.com te gaan, met haar vriende te klets op MSN of om te gaan draf.

“Eksamentyd is lekker, want onderwysers hinder ons dan nie meer met huiswerk, mondelinge en take nie.” sê Bianca le Roux.

“Aangesien skool elke dag vroeër uitkom, kan ek nog ‘n middagslapie ook inwerk voordat ek begin studeer.”

Sy dink egter dat eksamens en toetse nie belangrik is nie, want alle leerders behoort in klasse aandag te gee. Maar wat van kinders wat nie hul aandag gee nie? “Hulle behoort nie in die skool te wees in die eerste plek nie,” sê sy.

Wat doen leerders en studente somtyds wanneer hulle eintlik moet studeer?

Die meerderheid skryf die ‘tydelike’ uitstel van hul leerwerk toe aan die nuutste digitale kommunikasiefenomeen onder tieners, naamlik MXit.

Baie erken dat hulle hulself somtyds vang terwyl hul studeer, selfoon in die hand, onbewus daarvan dat hulle aandag afgetrek word daardeur.

‘n Mens sal dus verwag dat aangesien selfone by meeste skole in eksamelokale verbied is, hierdie probleem slegs sal voorkom by die huis?
Beslis nie.

Ander ‘aandagaftrekkers’ kom weer in die plek daarvan voor soos leerders wat musiek luister op hul iPods, vir mekaar briewe skryf en natuurlik, gesels.



More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za