Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Eet knoffel en lyk kleiner

Eet knoffel en lyk kleiner
 
2005-05-05


DIT is nooit nodig om daardie 30 kg wat so vasklou om die heupe, af te skud nie. Eet rou knoffel. Dan staan die mense verder van jou af, en dan lyk jy mos kleiner, so op die afstand.

Nou watter vrou wil nie hierdie woorde in haar kies vasbyt en daaraan herkou elke keer as sy (noodgedwonge) voor die spieël staan nie?
En dit weet Elsabé Aldrich, motiveringspreker van die Paarl, al te goed.

Daarom nooi sy so gereeld vroue na die feeste van vrouwees, waar vroue haar wyshede indrink.

Soos dat die Here nie ’n fabrieksfout gemaak het met hulle nie - al
het hulle bokspoortjies oor die wange en ’n skilpadnekkie onder die ken.

En dié vroue moet weer hul vriendinne nooi wat hulle gaan verwyt as hulle nie die aand kon meemaak nie.

Soos Elsabé haar aand aankondig: “Wuif al die bevryde, sappige
vroue nader.”

En vergeet vir die aand van die Meneer Reg met wie jy getrou het, toe jy nie besef het hy is Meneer Altyd Reg nie.

Laasmaand was dit ’n pajamapaartie waar die vroue kon uithang - of afhang as dit daarop neerkom.

Daar was Glühwein by die deur, en lekkerhede om aan te smul.
Diëte moes buite bly, want soos Elsabé haar vriendinne meegedeel het, sy was al hoeveel keer op ’n twee-weke dieet, en al wat sy elke keer verloor het, was die twee weke.

Dus het sy besluit om haar eie vorm te kies - en die vorm is rond.
Sy het glo selfs haar man oortuig dis nie haar lyf wat groter word nie, dis sy hande wat krimp.

Vir dié wat skaam was om die pad Klapmuts toe aan te durf in hul pajamas - na die plaasskuur waar die vroue feesvier - was daar ’n bus waarin jy sommer in jou nagkabaai kon spring.

Onder die blad moes ’n slaapsak en ’n kussing saamgaan, asook ’n koffiebeker vir slaaptyd sjokolademelk met ’n dekadente marshmallow wat bo-op wink.

Ek het liewer met my eie motor gery. Regoor die kafee karring my gewete oor die leë broodblik by die huis.

My vriendin wou nog stry, toe sê ek, klim jy uit, ek parkeer sommer so skuins voor die deur.

Want sien, om in die gees van die aand te kom, het ons twee eers gesit om ons hare in te draai ná ’n besoek aan rakke met
haargoeters, in ’n winkel in die onderdorp.

Dit was die eerste keer in my lewe dat ek krullers in my kop gehad het. Hoe mens ooit daarmee kon slaap, weet ek wraggies nie.

Bevryd is dit beslis nie.

Die kafeemense het nie mooi geglo wat hulle sien nie. ’n Kaalvoet vrou, met blink pajamas en ’n kop vol helder oranje krullers!

Maar toe ons in Klapmuts kom en ek sowaar nie kon onthou hoe ek by Rusticana kom nie, moes ek maar self die polisiestasie intrippel.
Die beamptes in die klagtekantoor het beslis gedink hier kom ’n erge graad van gesinsgeweld, maar hulle het gemaak asof dié gesig ’n alledaagse verskynsel is.

Dankie manne.

Dié sappige aand het gehandel oor geluk in eenvoud. Wat anders, so sit-sit op die vloer in jou pajamas? Jy moes bevry word van al jou “hang ups en jou hang downs”.

Soos Elsabé dit stel: “As jy nie by jou vriendinne kan wydsbeen sit nie, waar kan jy dan?

“Vergeet van waar bly jy, hoeveel kry jy, waarmee ry jy. En vergeet van perfek wees.

“Mense nooi jou juis terug omdat jy nie perfek is nie. Dan hoef hulle nie die regte eetgerei en bypassende breekgoed te hê nie.”

Al wat jy regtig nodig het is ’n sin vir humor - dis soos teensuurmiddel vir jou siel, soos Retha Rix van Wellington toe beduie.
Gooi die inhibisies oorboord. Haar ma het mos juis altyd gesê sy glo nie sy sal kan hemel toe gaan nie. Sy is te dik om deur die wolke te kan kom.

En toe sit sy poeiertjies aan haar gesig, want poeiertjies sorg dat jy nie blink nie. Want as jy blink lyk jy nog groter.

Die wyshede het geborrel, met ’n huistoevat sêding: “Moederskap is die tweede oudste professie. Dit betaal net nie so goed nie.”



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za